Ruddlaan se nuwe baadjie

Bo: Van die gaste wat die amptelike opening bygewoon het, onder wie Justin Lesch, direkteur van Infrastruktuur, Oudtshoorn se Munisipale Bestuurder Walter Hendriks, Chris Mcpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn en Johan Fourie, voorsitter van Infrastruktuur, Oudtshoorn Munisipalitet was. Na afloop van die seremonie het ’n parade ter viering van die straat plaasgevind. Onder: Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Chris Mcpherson saam met Alice Ungerer tydens die lintknipseremonie van Ruddlaan.

RUDDLAAN, Oudtshoorn se nuut geteerde oppervlak is vanoggend behoorlik gevier, nadat dit ongeveer drie jaar geneem het om die straatjie te teer.

Dié smal straatjie wat langs Tuishuis, ’n ouetehuis, verbyloop, was in ’n haglike toestand nadat herstelwerk aan ’n pyp in 2020 gedoen en die pad nooit herstel is nie.

NA herhaalde klagtes van inwoners is Ruddlaan in Oudtshoorn uiteindelik opgeknap.

“Die straat was destyds deel van een groot erf, maar is in later jare opgesny in kleiner erwe,” sê Johan Fourie, wyk 1 se raadslid. Daar was volgens hom aanvanklik onsekerheid oor wie vir die onderhoud van die pad verantwoordelik is, maar dat dit wel die munisipaliteit se taak is.

Oudtshoorn se burgemeester het Woensdagoggend die straat amptelik geopen met die knip van ’n lint, en daar is ’n parade met ’n elektriese rolstoel, fiets, motors en selfs ’n trollie met ballonne versier gehou.

Die inwoners van Tuishuis is baie opgewonde oor die nuwe oppervlak wat die stoot van rolstoele en bejaardes wat van die pad gebruik maak gaan vergemaklik.