
’n Intelligensiegedrewe operasie het uitstekende resultate gelewer met die inbeslagneming van twee ongelisensieerde vuurwapens en verskeie rondtes ammunisie in Oudtshoorn.
Op Donderdag, 2 November 2023 het Oudtshoorn Misdaadvoorkomingslede en Misdaadintelligensie ‘n operasie geloods by Adderleystraat, Oudtshoorn, nadat inligting bekom is oor die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Die span het die perseel betree en onmiddellik deursoek.
Hulle het ‘n kluis met ‘n .22 geweer, ‘n revolwer en verskeie kalibers ammunisie gevind.
Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is daar twee vuurwapens en meer as 350 rondtes ammunisie in beslag geneem.
‘n 61-jarige vrou is gearresteer op die aanklag van onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Die verdagte is later vrygelaat en gewaarsku om volgende week Donderdag, 16 November 2023 in die Oudtshoorn Landdroshof te verskyn op die genoemde aanklagte. (Deur Lindi Brill)