Kragopwekkers vir 3 waterskema boorgate

Die pompe wat water in die reservoir pomp naby Dysselsdorp. Foto verskaf

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit is trots om aan te kondig dat die installasie van ‘n 300 kVA diesel kragopwekker by die Dysselsdorp Waterbehandelingswerke (WBW) en noodkrag (50 kW inverters met litium-yster-batterybanke) by boorgat VR7 en DP18 in Dysselsdorp voltooi is.

Die gebruik van kragopwekkers het reeds in Oktober 2023 begin, nadat talle inwoners wat daagliks afhanklik is van water vanuit die waterskema, probleme ondervind het met watertoevoer tydens beurtkrag.

Die Hoorn het in 2022 berig oor die probleme met watervoorsiening wat tydens beurtkrag veroorsaak word. Pompe moet 22 uur ononderbroke pomp om die reservoir naby Dysselsdorp vol te maak. Met die beurtkrag kan die pompe nie lank genoeg pomp om aan die behoefte te voorsien nie, wat dan lei tot watertekorte.

Daar is ongelukkig tydens die toetsing vir boorgat VR7 opgemerk dat die nuwe batterybank foutief is en moes dit teruggegee word aan die verskaffers vir ’n vervangingseenheid. Die afleweringsdatum vir die nuwe batterybank moet nog bevestig word. Die kragopwekker by WBW en die bystandbatterye vir boorgat DP18 is egter in wer-king en bring nodige verligting.

Om die Klein Karoo Landelike Watervoorsie-ning en Dysselsdorp Watervoorsieningstelsels (KKRWSS) se werking tydens beurtkrag te verseker, moet noodkrageenhede geïnstalleer word vir die oorblywende ses boorgate soos uiteengesit in die Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP). Pogings word aan-gewend om befondsing vir hierdie projek te verseker.

In Maart 2023 het die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit aangekondig dat daar reeds aansienlike vordering in verband met die aanspreek van die uitdagings wat deur beurtkrag op dienslewering geplaas word, danksy substansiële befondsing van R4,665 miljoen, wat vanaf die Wes-Kaapse Regering ontvang is.

Hierdie befondsing is bekom na ‘n Provinsiale Kabinet-vergadering vroeër vanjaar, waar die Minister van Finansies en Ekonomiese geleenthede, Mireille Wenger, die toestaan van noodhulp befondsing aan die Departement van Plaaslike Regering goedgekeur het.

Die primêre doel hiervan was om noodkrag-oplossings vir die behandeling en voorsiening van water te bekom.

Die impak van beurtkrag op beide watervoorsiening en die rioolinfrastruktuur in en om Oudtshoorn het groot implikasies en baie inwoners is deur die probleem geraak. Die belangrikste hiervan is die voorsiening van basiese drinkwater.

As gevolg daarvan het die Munisipaliteit spesifiek hierdie projekte uitgelig om die uitdagings aan te spreek, maar steeds in ag geneem dat daar ’n dringende behoefte is om die beskikbare befondsing doeltreffend te bestee.

Wanneer al agt boorgate operasioneel is, is die saamgestelde opbrengs gelyk aan die daaglikse wateraanvraag en vereis dit deurlopende 24-uur bedryf. Tydens beurkrag oorskry die aanvraag egter die voorsiening, wat enige reserwekapasiteit uitput en tot watertekorte lei.

Om hierdie uitdaging te verlig, het die Munisipaliteit beurtkragverligtingsmaatreëls geïdentifiseer as die belangrike eerste stap.

Kragopwekkers wat van diesel gebruik maak is vir al agt boorgate oorweeg, maar vanweë hul afgeleë liggings en omgewingsensitiwiteit was dit onmoontlik om vir elkeen ’n kragopwekker te laat installeer. In plaas daarvan is moderne batterybergingstegnologie gekies vir hul verlengde lewensduur, verminderde herlaaitydperk en minimale onderhoudbehoeftes.