Drie van die Bestes kuier op Celebratio

Drie van die Bestes bestaande uit Germandt Geldenhuys, Mathys Roets en Danie Niehaus en is die kunstenaars wat by vanjaar se Kerskonsert op Celebratio gaan optree. Foto verskaf

DIE Kerskonsert op Celebratio op Saterdag 2 Desember trek vanjaar ’n nuwe baadjie aan met die manne van Drie van die Bestes wat die gehoor gaan vermaak met hulle uiteenlopende stemme, persoonlikhede en musiekstyle. Danie Niehaus, Mathys Roets en Germandt Geldenhuys gaan al die musiek sing waarvoor hulle bekend is: uitsonderlike a capellas soos hulle weergawe van “Mannetjies Roux” en “Cotton Fields”, ligte klassieke liedere soos “La Donna e Mobile” en ander gewilde Afrikaanse en Engelse treffers. Wat hier-die optrede baie uniek gaan maak is dat hulle die aand sal afsluit met bekende Kersliedere.

Drie van die Bestes is al vir dekades een van Suid-Afrika se mees gewilde sangtrio’s en soos die naam verklap is hierdie kunstenaars drie van die land se bestes en maak hulle gesamentlik musiek vir al meer as ’n eeu. Ná al die jare kry hulle dit steeds reg om gehore te vermaak en te verras met nuwe klanke, stories en musiek. Hulle is veral bekend vir hul gewilde a capella-verwerkings, klassieke vertolkings en ingewikkelde drie-party harmonieë – daar is geen einde aan wat hierdie drie kunstenaars sáám op ’n verhoog kan vermag nie.

Wat Drie van die Bestes so ’n gedugte span maak is hulle vermoë om effektief te wees as trio, maar ook as solokunstenaars in eie reg. Mathys Roets is bekend vir sy fluweelagtige basstem wat boei met unieke storievertelling. Danie Niehaus is alombekend as bekroonde liedjieskrywer, maar hy is ook een van ons land se talentvolste kunstenaars wat sy kragtige, emosie-belaaide stem al dekades lank gebruik om gehore te betower. Germandt Geldenhuys was tot onlangs dalk méér bekend as die geliefde karakter wat hy in die sepie Binnelanders speel, maar met sy kragtige tenoorstem, sy vertolkings van musiek en sy boeiende verhoogspersoonlikheid, verower hy harte oral waar hy gaan.

Die konsert begin om 19:30, maar die kos- en wynstalletjies is reeds om 18:00 oop, so kom gerus ’n bietjie vroeër en kuier saam met familie en vriende op die lieflike grasterras wat uitkyk op die granaatboorde en die Gamkaberg. Kaartjies kos R280 en is beskikbaar by www.celebratio.co.za of by Die Hoorn se kantoor by Hoogstraat 157, Oudtshoorn. Vir meer inligting kontak Marita by 082 335 6059.