DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het die afgelope paar weke begin om elektroniese en voorafbetaalde watermeters op Oudtshoorn te installeer.
Dit is ’n eerste vir Oudtshoorn.
Luidens ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit is daar in hierdie stadium reeds 154 elektroniese watermeters en nege voorafbetaalde watermeters geïnstalleer.
Elektroniese meters word geïnstalleer waar ou watermeters foutief was. Elektroniese meters is steeds konvensionele meters wat elke maand deur ’n meterleser gelees word.
Dit het egter die bykomende voordeel dat dit gebruik kan word om water te bespaar omdat dit geprogrammeer kan word om slegs ’n sekere hoeveelheid water per dag deur te laat.
Dit kan byvoorbeeld by deernishuishoudings wat 6 kl water gratis kry, geïnstalleer word.
Dit kan ook omgeskakel word na voorafbetaalde watermeters.
Die nege persele waar die voorafbetaalde watermeters geïnstalleer is, word tans gebruik as proefpersele op versoek van die betrokke watergebruikers.
Voorafbetaalde meters is luidens die persverklaring baie voordelig vir veral woonstelblokke.
Vier van die voorafbetaalde watermeters is by ’n nuwe woonstelblok in Wolfweg, Bridgton geïnstalleer en die eienaars is volgens die munisipaliteit baie in hul noppies om deel te wees van hierdie proeffase.
Voorafbetaalde water kan by alle verskaffers gekoop word waar elektrisiteit aangekoop word.
Aankope van water word in kiloliters gedoen en is luidens die persverklaring goedkoper aan die begin van die maand.
Maandelikse aankope moet daarom verkieslik aan die begin van die maand gedoen word en nie later in die maand nie, omdat ’n hoër tarief dan betaal word.
Voorafbetaalde watermeters het ook die bykomende voordeel dat dit inwoners meer waterbewus maak en hulle help om watergebruik te moniteer.
So word besparing van water aangemoedig.
Lekkasies kan ook deur die gebruik van die meters vinniger deur gebruikers raakgesien en dus vinniger herstel word.
Inwoners wat wil aansoek doen vir voorafbetaalde watermeters, kan Jo-Verda Ladouce kontak by jo-verda @oudtmun.gov.za of by 044 203 3058.
Die eerste 100 voorafbetaalde watermeters sal gratis geïnstalleer word.
• Die Oudtshoorn Munisipaliteit poog tans om alle foutiewe watermeters met elektroniese watermeters te vervang.