’N OPWINDENDE “terugblik”-projek wat handel oor die Oudtshoorn-omgewing se ongeskrewe en soms onvertelde geskiedenis gaan vanjaar die hart van die KKNK vorm!
’n Teaterproduksie, kunsuitstallings, openbare muurskilderye en ’n reeks tydskrifte – bekend as Zines – maak slegs ’n gedeelte uit van wat dié interessante projek vir feesgangers inhou.
Die projek, Karoo Kaarte, maak staat op meer as 40 onderhoude met inwoners van die dorp. Dit is gelykstaande aan meer as 1 000 bladsye se navorsing om hierdie byna vergete verhale wat deesdae nie eens meer van generasie tot generasie oorgedra word nie, uit te beeld.
Die projek spruit uit die kreatiwiteit en ondervinding van die visuele kunstenaar Vaughn Sadie en teatermaker Neil Coppen.
Coppen en Sadie het albei wye ervaring van openbare kuns- en teaterprojekte in Suid-Afrika waarin die gemeenskap die rigting bepaal het, en het vir dié projek nou saamgewerk met kunstenaars, digters, skrywers, musikante, navorsers en onderwysers van Oudtshoorn.
Wanneer jy met hulle gesels, besef jy gou die projek sou nie moontlik gewees het sonder die deelname van Oudtshoorn se mense nie. Die idee agter die projek is volgens Sadie reeds in Maart 2021 gebore, maar het eers sedert September begin lewe kry toe Oudtshoorniete begin betrokke raak het.
Volgens ’n skrywe van die KKNK oor die projek is dit deel van die droom van wyle dr David Piedt, Kunste Onbeperk en die Oudtshoorn Munisipaliteit, en word dit deur Kunste Onbeperk se Klein Karoo Kunste-akademie gedryf.
“Deur die kunste stel ons ons dit ten doel om ’n verskil op die dorp te maak en saam met die mense van Oudtshoorn iets te skep. Dit gaan oor deelname en groei, en om die kunste en prosesse te gebruik wat sosiale kwessies binne die gemeenskap takel om sodoende denke te stimuleer en ’n gemeenskap te transformeer.”
Volgens Sadie en die ses Oudtshoorniete wat verantwoordelik daarvoor is om die projek sy spreekwoordelike vlerke te gee, is Karoo Kaarte presies dit, maar ook veel meer!
Karoo Kaarte handel grootliks oor die gedwonge verskuiwing van mense en gemeenskappe tydens die tydperk van apartheid en oor hul individuele verhale.
Die naam is volgens Sadie ’n sinspeling op die dubbele betekenis van die woord “kaarte” in ’n Oudtshoorn-konteks.
Dit verwys nie net na kaarte wat strate of plekke aandui nie, maar ook na hoe die woord in die volksmond gebruik word. “Om kaarte te sny” verwys daarna om te kuier en stories te vertel.
Hy sê heel nederig dat hy slegs die fasiliteerder van die projek is en ’n soort mentor, en ag die bydrae van sy span Oudtshoorniete baie hoër as sy eie.
Coppen is weer meer verantwoordelik vir die produksie, Op hierie dag, wat daaruit gebore is.
‘Ek het anders begin dink, ander goed raakgesien’ – Die Hoorn gesels met die span van Karoo Kaarte (1)
’n Waardering vir Oudtshoorn se mense en geskiedenis en die noodsaaklike vermoë om na ander te kan luister.
Dit is twee van die dinge waarvan die Karoo Kaarte-projek hulle bewus gemaak het, het ’n groep jong Oudtshoorniete wat by die projek betrokke is, die afgelope week aan Die Hoorn vertel.
Wat duidelik was uit gesprekke met die span – Glenisha Tarentaal (30), Tayla Damons (26), Colin Meyer (30), Melikhaya Blou (31), Diano October (30) en Sebina Beukes (33) – was dat almal meer uit die proses gekry het as wat hulle verwag het; dat dit ’n bewusmaking vir almal was oor hul mense, omgewing en geskiedenis; dat hulle meer van ’n waardering vir Oudtshoorn se mense en geskiedenis gekry het; en dat almal geleer het hoe om te luister – ’n noodsaaklike aspek van die projek wat die span hoop om oor te dra aan besoekers.
Hoewel almal op verskillende stadiums betrokke geraak het by die projek, en deur verskillende gebeure en mense aangemoedig is om betrokke te raak, het almal saamgestem dat die projek vir hulle baie beteken het. Dié span het die collages vir die projek saamgestel, onderhoude met mense in die gemeenskap gevoer, en die projek geneem tot waar dit tans is.
Tarentaal, van Smartie Town, sê dat sy niks verwag het toe sy by die projek aangesluit het nie, en net ’n “open mind” daaroor gehad het. Sy het egter gou besef dat dit ’n verrykende impak op haar en haar gemeenskap, asook die hele dorp, sal hê.
Volgens Tarentaal was die onderhoudvoering en saamstel van collages “mind-blowing en wow!” “Daar is vir my nie eers woorde om te beskryf wat ons doen nie. Ek het nie besef hoe alles wat ons hier doen eintlik reeds deel is van my lewe nie – dit het alles in my net weer wakker gemaak. Ons almal dink ons is so verskillend van mekaar, maar ons besef nie hoe eenders ons is nie,” het sy gesê.
Sy sê sy het tydens die proses besef hoe ons as mense, nes die strate van die dorp, met mekaar vervleg is. “Ons loop die strate, en die strate vertel die stories.”
Sy het ook besef hoe belangrik dit is om na mekaar te luister.
Damons, ’n inwoner van Ou Lokasie, vertel sy was reeds voorheen betrokke by ’n projek oor gedwonge verskuiwings, en het gedink dié projek sou dieselfde wees, maar haar verwagtinge is heeltemal oorskry.
“Dit was heeltemal anders, en ek het baie anders begin dink, en ander goed begin raaksien deur hierdie projek. Daar was dae dat ek skoon hoendervleis gekry het oor wat ons doen, ander dae het ek gelag, en ander dae het ek gehuil.”
Deur die proses, sê sy, het sy weer verlief geraak op kuns, en die manier hoe sy dit kan gebruik om ’n boodskap aan ander oor te dra oor belangrike kwessies in die gemeenskap.
Sy voeg by dat die proses ’n positiewe sielkundige uitwerking op haar gehad het. “Daar is regtig nie woorde om dit te beskryf nie. Ons besef nou hoe belangrik dit is om na mekaar te luister, hoe belangrik dit vir iemand is dat jy na hulle luister.”
Meyer, ’n koel en kalm kunstenaar van Noordeinde, sê hy het vinnig besef die projek gaan ’n “groot ding” raak. “Ek het vinnig gesien dis nie net ’n klomp mense wat bymekaar kom en iets maak wat niks gaan beteken nie. Dit het my oë oopgemaak vir ons geskiedenis. Ek het nie geweet daar het al so baie in Oudtshoorn se verlede gebeur nie. Ons het baie diep gegaan,” vertel hy. Hy sê hy het ’n beter waardering vir en perspektief van Oudtshoorn deur die proses gekry.
Vir Meyer het die proses hom uit sy gemaksone laat beweeg. “As kunstenaar het ek ’n baie spesifieke styl, maar deur hierdie proses moes ek ’n hele nuwe tegniek aanleer; collaging. Hoe meer ek dit gedoen het, en deur almal se ondersteuning, het ek myself begin vind in hierdie medium. Ek het voor die tyd gedink ek is so ‘cool’, maar hierdeur het ek besef ek het nog baie om te leer!”
Hy het die proses met ’n goudmyn vergelyk. “Mens moet deur ’n groot berg gaan om goud daar uit te kry, en dit is wat ons hier gedoen het. Ek hoop mense wat na dit kom kyk, leer soos wat ons almal geleer het.”
• Lees volgende week meer oor Blou, October en Beukes. Die produksie Op hierie dag is van 29 Maart tot 2 April te sien in die Toekomsrussaal. (Deur Stefan Skapie Goosen)
