Oudtshoorn gaan steeds soos ’n feesdorp lyk!

Tydens verlede jaar se reWOLusie is verskeie bome in die middedorp in ’n kreatiewe handgemaakte kleed deur inwoners geklee. Foto: Hans van der Veen

OUDTSHOORN gaan – ten spyte daarvan dat vanjaar se KKNK nie voortgaan nie – steeds volgende week sy naam gestand hou as die tuiste van die eerste en oudste Afrikaanse kunstefees in die land en beslis in ’n feesgewaad pryk.
Oudtshoorn het verlede jaar die oë van feesgangers laat rek met die wyse waarop inwoners die dorp in wol ge­tooi het met ’n projek bekend as die Oudtshoorn reWOLusie. Dié projek is vanjaar met kyk­NET se gesogte Blou Fiësta bekroon, die toekenning wat vir sonderlinge pres­tasies op ’n kunstefees gegee word.

Honderde inwoners is sedert ver­lede jaar weer aan die hekel en brei met interessante planne vir vanjaar – ons ander sal maar tot Sondag moet wag om te kyk wat hierdie keer gaan gebeur. Moenie dit misloop nie!

Nie net die reWOLusie – ’n projek wat inwoners en gemeenskappe op kreatiewe wyse saamsnoer en groot vreugde bring aan duisende ander – gaan vanjaar ten spyte van die koro­navirus voort nie, maar ook Absa se Maakit Mooi-projek wat elke jaar sorg vir een of meer kunsinstallasies wat op Oudtshoorn agterbly en help om Oudtshoorn te verfraai.

Volgende week gaan ’n interessante en indrukwekkende installasie op Oudts­hoorn verrys met hoop as die tema – ’n won­derlike “toeval” in ’n tydvak wat die wêreld saamveg teen ’n virus en vra dat ons almal moet saamstaan en vas­hou aan hoop. Beplanning aan dié projek het bykans ’n jaar gelede be­gin. Lees gerus volgende week meer hieroor in Die Hoorn en hou ook ons Facebook-blad en Die Hoorn op Instagram dop.

Herwinde materiaal word vir die installasie gebruik, met die vaar­digheid en kundigheid van plaaslike mense wat ingespan word om deel van die skeppingsproses te wees. (Deur Liesel le Roux)