Hoe op aarde kan enigiemand bly wees dat die KKNK afgestel is..?

HOE op aarde kan enigiemand bly wees daaroor dat die KKNK afgestel is, dink ek kort na vieruur Dinsdag­oggend toe ek om die een of ander rede wakker word.

Of dalk was dit juis as gevolg van die sms wat ek wakker geword het – ’n sms wat Die Hoorn ontvang het van ’n leser wat skryf hy of sy is so bly dat die fees afgestel is. Dié leser weet duidelik nie dat ’n KKNK meer as R60 miljoen in Oudtshoorn se eko­nomie inbring nie en hoeveel mense, skole, kerke, besighede, entrepreneurs, akteurs, sangers en musikante se oorlewing daarvan afhang nie. Hy of sy het sommer net so ’n losse gevoel dat net “ ’n paar besighede en gastehuise” daarby baat. En gee dui­delik nie om daarvoor nie.

Hy of sy weet nie van die werkloosheid en paniek wat party mense nou in die gesig staar nie.

Hy of sy weet nie van die vroue van die dorp wat vir bykans ’n jaar al hekel en brei om die dorp te omtower met wol nie, en hoe dit mense uit alle gemeenskappe na mekaar laat uitreik en heelmaak nie, danksy die KKNK.

Hy weet nie van die kunstenaars wat derduisende rande in produksies gestort het en maande en soms jare lank aan ’n produksie gewerk het en nou hul inkomste en die geleentheid om op te tree verloor het nie.

Hy weet nie van die eetplekke wat fyn moes beplan en somme maak om genoeg voorraad te koop om die fees­gangers te voed en te bederf en nou met ’n oorskot voorraad en plat beursies sit nie. Hy weet nie van die verblyfplekke wat gaan moet veg om hul deure nog op die dorp oop te hou nie.

Nee, liewe leser, Oudtshoorn se mense het niks om oor bly te wees nie. Ons verloor te groot hierdie jaar.

Ons verloor ekonomies op ’n manier wat lelik kan seermaak.

En ons verloor ook groot met die kunste wat ons vanjaar verbygaan. Ek is een van die mense vir wie musiek en woorde en die vakmanskap van ’n kunstenaar my jaarlikse suurstof is. Kan ons dit nie maar vir mekaar gun nie?

Ek dink nie ons mag bly wees oor ander se verlies nie. Ons moet leer om wyer te kyk en ander ook te verstaan en dit wat vir hulle belangrik is. En hulle ondersteun om aan te hou.

En ons moet, veral nou, goedhartig wees. Omgee. Ondersteun. Met me­kaar gesels. Luister. Probeer help.
Dit is wat hierdie huidige wêreldkrisis van ons vra – empatie.

  • Liesel le Roux, redakteur, Die Hoorn

1 Comment on "Hoe op aarde kan enigiemand bly wees dat die KKNK afgestel is..?"

  1. Louise Venter | March 24, 2020 at 9:08 am |

    Dankie Liesel, die impak van die afstelling van ons geliefde KKNK is, soos jy tereg sê, so ‘n verskriklike verlies vir ons dorp, ons land, ons mense. My hart is seer vir almal wat hierdeur geraak word.

Comments are closed.