Oudtshoorn en Kannaland: Inentings word dié week hier voortgesit

Inwoners van Oudtshoorn wag verlede week vir hul Covid-19-inentings by die verpleegsterstehuis van die Oudtshoorn Hospitaal. Inwoners was eenparig in hul lof vir die vriendelike en flink wyse waarop die inentings daar geskied het. Ook Kannalanders wat verlede week ingeënt is, het op sosiale media hul tevredenheid met die diens uitgespreek. Foto: Schalk le Roux

DIE inenting van mense bo 60 wat geregistreer het om die Covid-19-entstof te ontvang, word vandees­week in die Groter Oudtshoorn en Kannaland voortgesit.

Talle inwoners is reeds verlede week tussen Woensdag en Vrydag ingeënt, en vandeesweek word inen­tings weer sedert gister (Woensdag 9 Junie) tot Vrydag (11 Junie) gedoen.

Volgens Helen Human, die Departement Ge­sondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudts­hoorn-subdistrik, sal die mense wat ’n tweede sms ontvang het dat hul afsprake het, voorkeur geniet. Mense wat geregistreer het. maar nog nie die tweede sms ontvang het nie, sal ook gehelp word indien daar genoeg entstof beskikbaar is.

Geen inenting sal egter toegedien word as jy nie geregistreer is nie.

Neem jou identiteitsdokument saam as jy gaan vir die inenting.

Meer inentingspersele kom

Volgens Nadia Ferreira, woord­voer­der van die Wes-Kaapse departement Gesondheid in die Suid-Kaap, sal meer inentingspersele in die provinsie oopgestel word soos meer entstof ontvang word. Dit beteken dat meer mense afsprake en sms’e sal kry en ingeënt kan word.

Die Tuinroete-distrik, wat die Gro­ter Oudts­hoorn en Kannaland insluit, het tot einde verlede week 6535 mense (942 privaat) as deel van Fase 2 (mense 60 jaar en ouer) by ouetehuise en inentingspersele ingeënt.

“Ons is gretig om soveel mense moontlik in die kortste tyd moontlik in te ent. Ons vermoë om mense in te ent hang egter af van die hoeveelheid entstof wat ons van die nasionale Departement van Gesondheid ontvang,” sê Ferreira.

Hier word jy in Oudtshoorn en Kannaland ingeënt

Die volgende persele is vandees-week in die Groter Oudtshoorn en Kannaland oop: Oudtshoorn Hospitaal, Calitzdorp DRC-kerksaal, Ladismith DRC-kerksaal, Zoar Sportklub en Van Wyksdorp-kerksaal.

60 en ouer – registreer so en beveilig jouself en diegene om jou!

Diegene wat 60 jaar of ouer is en nog nie vir die Covid-19-entstof geregistreer het nie, kan dit kosteloos so doen:
• Skakel 134832# van jou foon om die proses te begin OF

Stuur die woord “REGISTER” per WhatsApp na 0600 123 456 OF
Gaan na die webtuiste:
http://vaccine.enroll.health.gov.za. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Oudtshoorn en Kannaland: Inentings word dié week hier voortgesit"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*