DIE voormalige ontvangsdame van ’n gastehuis op Schoemanshoek is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof op twee van drie bedrogklagtes skuldig bevind.
Emmerentia Weyngaardt (33) is daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 meer as R557 000 van die eienaar van die Montana Gastehuis, Wolfgang Beitz, op bedrieglike wyse in ander bankrekenings oorbetaal het.
Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het met kruisondervraging dit aan Weyngaardt gestel dat sy die hof mislei en haar weergawe aanpas.
Streeklanddros LA Wilkens het vroeër ’n ontslagaansoek van Weyngaardt se regsverteenwoordiger, adv Ezra Morrison, van die hand gewys en haar Woensdag aan bedrog skuldig bevind.
Weyngaardt is daaraan skuldig bevind dat sy betalings aan diensverskaffers eintlik in haar eie bankrekenings gemaak het.
Sy is ook daaraan skuldig bevind dat sy in Augustus 2015 bedrae van onderskeidelik R30 000 en R80 000 moes betaal het in ’n beleggingsrekening terwyl die geld inderdaad in die persoonlike rekening van ene Bradley Titus inbetaal is.
Sy is egter onskuldig bevind op ’n derde klagte deurdat sy glo op 28 Augustus 2015 ’n bedrag van R40 000 as ’n donasie oorbetaal het in ’n FNB- rekening terwyl die geld inderdaad in die persoonlike rekening van ’n kollega, MD Msuthu, inbetaal is, sonder sy medewete. Dit was ook nie ’n donasie nie.
Die saak is vir ’n proefbeampteverslag en vonnisverrigtinge tot 11 Mei 2020 uitgestel en Weyngaardt se borgtog tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)