Mev Heelal SA-finalis bemoedig Oudtshoorn-modelle

“DIS nie jou skuld waar jy vandaan kom nie, maar dit is jou verantwoor­delikheid waarheen jy gaan.”

Dit was die woorde van Ben­nedette Landman (29) aan ’n groep aspirant-modelle van die Oudtshoorn Top Model Academy.

Sy het die groep onlangs by die CP Nel Museum toegespreek.
Bennedette is in Oudtshoorn gebore en het hier grootgeword, maar bly deesdae op Laingsburg.

Sy het die jong modelle bemoedig: “Moenie opgee nie, en staan op vir dit wat reg is.”

Bennedette is die ma van twee dogtertjies van vier en agt, en ’n oud-leerder van Langenhoven Gimnasium.

Sy sou op 24 Junie in Johannesburg aan die Mev Heelal SA deelgeneem het, maar is Woensdag deur die organiseerders ingelig dat die kompetisie as gevolg van die koronavirus na Augustus of September uitgestel is.

“Ek is bly hulle is verantwoordelik en neem almal se gesondheid in ag, want ons moet baie reis en vlieg.”

Sy is tans besig met ’n projek om gratis waterlose handwasmiddel aan persone te verskaf wat dit benodig.

Vanjaar fokus die kompetisie op geweld teen vroue en kinders – ’n saak wat Landman baie na aan die hart lê. (Deur Angelique Erasmus)