’n Spekboomkoek van formaat!

SPEKBOME – die superplant wat koolstof uit die omgewing berg, kan ook die hol kol in jou maag gaan stil.

Leroux van Vuuren van Thabile Lodge buite De Rust het besluit om die spekboom se veelsydigheid te toets en ’n liplekkerkoek daarmee gebak.
Leroux het in 2014 aan die gewilde kookprogram Kokkedoor, deelgeneem en woon sedert 2018 in die Klein Karoo.

Toe Die Hoorn Leroux kontak nadat ons gehoor het hy bak koeke van spekboomblare, het hy spesiaal Die Hoorn se personeel met ’n smul­lekker spekboomkoek kom bederf.

En hoewel die koek eintlik te mooi was om te eet, het nuuskierigheid (gelukkig) die oorhand gekry.

Soos die Engelse uitdrukking lui: “The proof is in the pudding”. Die resultaat was fantasties!

Leroux sê hy hou van eksperimenteer met nuwe eksotiese bestanddele, en om smake te meng en pas.

Terwyl hy navorsing gedoen het oor hoe om spekboomblare in ’n koek te gebruik, het hy besluit om ’n wortel­koek­resep as basis te gebruik.

Hy het ’n foto van sy eerste poging op Facebook gedeel en uitstekende terugvoer gekry – dit is meer as 700 keer op sosiale media gedeel.

“Ek het ongelooflike terugvoer gekry en ’n klomp navrae oor die resep,” sê hy.

Leroux tower nie net koeke op nie, maar doen ook spyseniering – met ’n verskil – vir verskeie funksies.

Hy sê hy is baie erg oor die Oudts­hoorn-omgewing en sy mense, maar dat hy sukkel om aan die hitte gewoond te raak.

“Gelukkig kan mens darem met ’n koue lafenis vir die keel, en ’n lekker koue swembad die dag se hitte te stuit!”

Leroux, wat vertel dat hy ook al spekboomblatjang en spekboomkonfyt gemaak het, het ingewillig om sy spekboomkoekresep met Die Hoorn se lesers te deel:

Bestanddele;
3 eiers
250 ml olie
500 ml bruinsuiker
100 ml melk
5 ml koeksoda
5 ml bakpoeier
5 ml sout
500 ml koekmeel
30 ml fyn kaneel
5 ml vanielje
500 ml gekapte spekboomblaartjies

  • handvol rosyne
  • handvol gekapte neute
    1 blik fyn pynappel en sap
    Metode:
  1. Room eiers, olie en bruinsuiker tot romerig.
  2. Sif meel, koeksoda, bakpoeier, sout en kaneel saam.
  3. Meng melk, vanielje en pynappel­pulp en -sap saam.
  4. Voeg eiers, en meelmengsel, rosyne en neute by melkmengsel en meng goed deur.
  5. Gooi in twee gesmeerde koekpanne en bak vir 60 min teen 160°C.
  6. Meng versiersuiker en roomkaas, en versier koek aan buitekant en met ’n laag tussen albei koeklae. (Deur Angelique Erasmus)