’n Oud-Polisieman van Oudtshoorn wat tereg gestaan het op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding van ’n 18-jarige vrou in 2019, is Vrydag in die Oudtshoorn streekhof vrygespreek en ontslaan.
Brian Carelse, regshulpprokureur van Nigel Muller, het die hof ingevolge Artikel 174 van die strafproseswet, versoek om hom onskuldig te bevind omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en Muller nie op die swak getuienis voor die hof skuldig bevind kan word nie.
Die klaer sowel as haar niggie en kêrel was volgens die verdediging swak getuies en het mekaar weerspreek.
Die klaer het tydens haar getuienis in die hof erken dat sy die betrokke dag in 2019 so dronk was, dat sy haarself nie kon help nie. Sy kan egter sekere dinge wat met haar gebeur het onthou.
Carelse het dit aan haar gestel dat sy ’n selektiewe geheue het en nie die waarheid praat nie.
Streeklanddros Asanda Shasha van Beaufort-Wes het Carelse gelyk gegee en Muller vrygespreek. (GARNETT WICOMB)
Oud-polisieman vrygespreek
