Rugbylegendes kuier op die ’Hoorn

Bo: Sowat 30 leerders van verskeie Hoër- en Laerskole het Vrydagmiddag ’n spesiale skopkliniek, aangebied deur rugbylegende, Vlok Cilliers, by Laerskool Wesbank se rugbyveld bygewoon. Foto: Esti-Mari de Jager Onder: Helgard Müller, Waldo Cloete, Vlok Cilliers, Kalbas Nel en Richardt Strauss. Foto’s onder: Knipoog Fotografia

Drie groot name in die rugbywêreld het Vrydag in Oudtshoorn besoek afgelê. Hulle was nie toeriste nie, maar was hier as deel van ’n projek om geld in te samel vir ’n nuwe pawiljoen vir Laerskool Wesbank se rugbyveld.

Vlok Cilliers, Helgard Müller en Richardt Strauss was deel van die Rugby Aan Tafel-funksie wat op Vrydagaand, 8 Augustus, by The Black Swan Restaurant plaasgevind het.

Die aand se funksie is voorafgegaan met ’n intensiewe skopkliniek wat Cilliers vir sowat 30 belowende jong rugbyspelers uit die omgewing aangebied het.

Die sessie het op Wesbank se rugbyveld om 15:00 afgeskop. Rugbyspelers van Langenhoven Gimnasium, Hoërskool Oudtshoorn, Bridgton Sekondêre Skool, Hoërskool Calitzdorp, Laerskool Wesbank en De Villiers Primêre Skool was onder die geesdriftige sportmanne.

Cilliers het onder andere vir Morne Steyn en Handré Pollard as skoppers van die Springbokke afgerig en het sy kennis met die spelers kom deel, sodat hulle op hul huidige tegniek kon bou en verbeter. Die seuns het nie net aandagtig geluister en die wenke uitgetoets onder Cilliers se wakende oog nie, maar het elk woord ter harte geneem.

Kaartjies vir die aand se funksie was vroeg verlede week reeds uitverkoop en elk van die 100 beskikbare plekke was ingeneem. Kalbas Nell het die drie rugbylegendes aan die woord gestel en ook tussendeur interessante feite en staaltjies by hulle ontlok.

Dit was veral Helgard Müller wat gereeld gesorg het dat gaste van die lag proes met sy sêgoed. Gaste kon na die gesprekke vrae aan die drie stel.

Een van daardie vrae was aan Cilliers gerig, wat tans in Frankryk afrig. Hy is gevra watter land is vir hom die mooiste. Sy antwoord was natuurlik “Suid-Afrika”.

Verskeie items is tydens die funksie opgeveil. Daar was ’n getekende hemp deur Bakkies Botha, getekende rugbyballe, heerlike wyn van Karusa, ’n BBP uitstappie na Cango Wildlife Ranch, ’n volbladadvertensie in Die Hoorn, ’n jagpakket van Chandelier Game Lodge, twee nagte verblyf by Klein Karoo Game Lodge, ’n meerkatervaring by Africamps en ander pryse. Die groot item van die aand was John Smit se toetstrui wat hy tydens sy 102e Springbok-toets gedra het in Bloemfontein.

Volgens die skoolhoof van Laerskool Wesbank, Waldo Cloete, het die skool ’n mikpunt vir die oprigting van ʼn pawiljoen en het Vrydag se funksie hulle fondsinsameling ʼn welkome hupstoot gegee.

Die organiseerders bedank graag hulle borge wat tydens die funksie hul hande asook beursies oopgemaak het. Hulle is: Karusa Wyne, The Black Swan Restaurant, Buffelsdrift Game Lodge, SA Rugby Legends, De Rustica Olive Estate, Die Hoorn Koerant, Chandelier Game Lodge, Surval Olive Estate Boutique Hotel, Wilgewandel Vakansieplaas, Klein Karoo Game Lodge, Cape Karoo International, South Cape Wireless as hoofborg, AfriCamps, Badenhorst Slaghuis en Oudtshoorn & De Rust Toerisme Buro. (ANGELIQUE ERASMUS)

’n Getekende trui deur Bakkies Botha.

Gaste het die geleentheid gehad om vra aan die legedes te rig.

Kaartjies was reeds vroeg die week uitverkoop, en die saal was stampvol.