Oud-onnie ’n held in Taiwan

Johan “Cokes” Koekemoer, sy vrou, Jani, en hul kinders Kaleb en Mikayla. Foto verskaf

“EK was net op die regte plek, op die regte tyd.”

Só sê die voormalige Oudtshoorniet Johan Koekemoer (47), bekend as “Cokes”, nadat hy ’n man wat nie kon swem nie verlede Donderdag (13 Februarie) uit ’n dam in Taiwan gered het.

Die man het in die dam beland nadat hy beheer oor sy motor verloor het.
Koekemoer, sy vrou Jani en hulle twee kinders Kaleb (4) en Mikayla (1), bly in Taipei in die Tamshui-distrik in Taiwan.

Koekemoer was van 1996 tot 2003 ’n onderwyser by Laerskool Wesbank waar hy hoofsaaklik lewensoriëntering en wiskunde gegee het.

Hy het ook rugby en krieket by die skool afgerig en was die atletiekorganiseerder.

Hy het ook self rugby gespeel en terwyl hy op Oudtshoorn gewoon het, vir die SWD Arende en die Oudtshoorn Rugbyklub uitgedraf.

Die Koekemoers het in 2003 Taiwan toe verhuis.

Hy en sy vrou hou by die Wego Private School in die Xinbeitou-distrik skool.

Volgens Koekemoer het hy aanvanklik, toe hy die oggend die motor in die dam sien, dit vir sy vrou gewys en gesê hoe snaaks dit was dat iemand die vorige aand in die dam ingery het en die motor steeds daar was.

Maar toe hy weer kyk, het hy besef dat die motoris steeds in die motor was.

Hy het sy arms rondgeswaai, op soek na hulp.

Die motor was tot by die deure in die water, en hoewel die man nie in onmiddellike gevaar was nie, het Koekemoer geweet hy moet die man op een of ander manier help. Hulle het by die dam stilgehou en probeer om met die motoris te kommunikeer.

“Ons het besef hy kan nie Engels praat nie en ek het my vrou gevra om hom in sy taal te vra of hy kan swem,” vertel Koekemoer.

Die man het intussen deur die sondak na buite geklim, afgegly tot in die water en toe verbete aan die spieëltjie vasgeklou.

“Dis toe dat ek besef het hy kan glad nie swem nie. Ek het dadelik ingespring om hom te help en by hom te wees, sou die motor dieper in die water insak.”

Die man is met die hulp van ’n reddingsboei na veiligheid gebring.

Oor sy heldedaad is Koekemoer baie beskeie en sê dat hy homself nie as ’n held beskou nie.

“As so iets weer sou gebeur sal ek dit weer doen en kyk wat ek kan doen om te help.”

In Taiwan is Koekemoer nou ’n groot held. Hy is ná sy heldedaad met die Taiwan Charity Hero Award vereer. ’n Sertifikaat is Maandag deur die voorsitter van ’n Taiwanese organi­sasie, Zheng Minghong, aan hom oorhandig.

Minghong het in ’n inskrywing op facebook Koekemoer bedank en gesê: “What you did means a lot to Taiwan, and thank you again.”

Die storie het heelwat mediadekking in Taiwan gekry, in die koerante en ook op TV-nuus.

Koekemoer sê hoewel hy in Port Nolloth in die Noord-Kaap gebore is en daar grootgeword het, sal hy altyd Oudtshoorn as sy tuisdorp beskou.

“Ek mis die dorp en sy mense geweldig baie, veral al die goeie vriende wat ek in Oudtshoorn gemaak het. Ons kom gelukkig gereeld Oudts­hoorn toe om hulle te sien.”

Die een ding wat hy nie mis nie, is die hitte, sê Koekemoer.

Makka Swart, ’n goeie vriend van Koekemoer en inwoner van Oudtshoorn sê as daar nou een ou is wat nie twee keer sal dink om so iets te doen soos om iemand te help nie, is dit Cokes. “Hy sal altyd eerste aan ander mense dink en uit sy pad gaan om hulle te help.” (Deur Angelique Erasmus)

Be the first to comment on "Oud-onnie ’n held in Taiwan"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*