Rieldanse op Valentynsdag!

Die kinders van die Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn en die Kallieklip Stoftrappers van Ca­litzdorp het die stof op Valentynsdag laat staan toe hulle saam rieldanse gedoen het. Foto’s: Angelique Erasmus

LEERDERS van die Eljada-Kairos Skool op Oudts­hoorn is nie net op Valentynsdag bederf met ’n rieldans-uitvoering nie, hulle het die stof laat staan toe hulle sélf ingespring en begin dans het.

Die Kallieklip Stoftrappers het Vrydag die kinders, al die pad van Calitzdorp af, verras.

Die Eljada-leerders was spoggerig uitgerus in rooi, perfek vir dié dag van die liefde.

Die rieldans is ’n tradisionele Khoisandans en word ook beskou as een van die oudste danssoorte in Suid-Afrika.

Hierdie danspassies verg vinnige voetwerk en die dansers moet goed fiks wees om dié hoë energie-dans uit te voer.

Juanita Pretorius, die groep se afrigter, sê ’n rieldans bestaan uit drie verskillende rituele.

“Eerste is die hofmakery, dan is daar die dierepassies en word diere soos die meerkat en volstruis nagemaak. Laaste is dit die troue,” sê sy.

Die lied, “Wie se kind is jy”, gesing deur Dr Victor en Theuns Jordaan, het bykans al die kinders op hul voete gehad en aan die dans.

Die stof het behoorlik in die lug gehang, en daar is geskaterlag van lekkerkry.

Eljada-Kairos Skool hou elke jaar ’n dansvertoning in die saal waaraan die kinders self deelneem, maar vanjaar het die onderwysers besluit om hulle te bederf met iets anders.

Baie van die kinders by die skool kom uit dorpe soos Calitzdorp, Laingsburg, Uniondale en Prins Albert, en hulle ken en is lief vir rieldans, het Annelize Schutte, ’n onderwyser van Eljada-Kairos Skool, wat dié Valentynsdag-geleentheid gereël het, gesê. (Deur Angelique Erasmus)

Be the first to comment on "Rieldanse op Valentynsdag!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*