Davel stel eis in ná munisipale kabel huis laat brand

Al wat oor is van die muurprop nadat dit ontplof het. Foto: Christine Schoeman

’N INWONER van Oudtshoorn is besig met ’n eis van meer as R100 000 teen die Oudtshoorn Munisipaliteit nadat sy huis in Parkweg verlede Woensdagaand (12 Februarie) begin brand het as gevolg van ’n stukkende munisipale kragkabel wat vroeër die dag deur ’n boomtak beskadig is.

Die inwoner is ook bekommerd of ’n munisipale werknemer wat ná die voorval “lewendige drade kaalhand aanmekaar gekoppel het” die nodige kundigheid gehad het om so ’n situasie te hanteer.

Volgens Erik Davel, het ’n boomtak omstreeks 16:00 bokant die oorhoofse kragdrade in Parkweg gebreek as gevolg van ’n sterk wind en op die kragkabel, wat na sy huis se dak lei, geval.

Hy het die munisipaliteit gekontak om die kabel te kom herstel waarna twee werknemers sowat ’n uur later opgedaag het. Een van hulle – geklee in ’n kortbroek en plakkies – het volgens Davel op die huis se dak geklim en “lewendige drade kaalhand aan mekaar gekoppel”. Dié optrede van die man het Davel baie bekommerd gemaak oor sy kundigheid.

Om en by middernag het ’n werksoproep Davel wakker gemaak, en het hy deur ’n dakvenster gesien dat sy huis se dak aan die brand was.
“Dit was angswekkend, want my vrou en kin­ders het ook in die huis geslaap. Ek is net dankbaar vir die oproep wat my wakker gemaak het.”

Hy het die huis se hoofskakelaar (“trip switch”) probeer afskakel, maar dit was tevergeefs. Een van die muurproppe in sy tuisbesigheid se kantoor het in daardie stadium ontplof en toerusting het aan die brand geslaan.

“Dit is net genade van Bo dat drade toe afgebrand het en die kortsluiting gestop het. Toe kon ek met ’n tuinslang die brand in die kantoor blus en water op die huis se dak spuit.”

Hy het die munisipaliteit die volgende oggend weer ontbied, maar daar is aan hom gesê dat hy ’n privaat-elektrisiën moet kry.

Die skade van meer as R100 000 sluit onder meer skade in aan sy rekenaar, kantoor­toe­-rusting, twee dubbel­deur-yskaste, twee vries­kaste en ’n elektriese hekmotor wat uitgebrand het.

• Na verneem word moes ’n munisipale amptenaar wat die optrede van die man in die kortbroek by die munisipaliteit gerapporteer het, huis toe gegaan het dié week nadat hy gedreig is en gevrees het dat hy leed aangedoen sal word.

Navrae oor die voorval en die bewering oor die amptenaar is aan die Oudts­hoorn Munisipaliteit gerig, maar terugvoer is nie teen druktyd ontvang nie. (Deur Christine Schoeman)

Be the first to comment on "Davel stel eis in ná munisipale kabel huis laat brand"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*