DIE Oudtshoorn Munisipaliteit ondersoek tans maniere om die stormwater- en rioolstelselprobleme op die dorp op te los.
Inwoners kla reeds jare lank dat die blokkasie van hierdie tipe pyplyne amok saai, veral wanneer dit op die dorp reën en verskeie strate oorstroom word.
Donderdag (8 Junie) het raadslede en beamptes gekyk na ’n demostrasie van ’n baie interessante trok wat kan help daarmee. Volgens Chris Swart, senior bestuurder: tegniese dienste by die Oudtshoorn Munisipaliteit, kan hierdie trok pyplyne se verstoppings oplos en dan ook die gemors wat losgespuit word uitsuig.
“Ons kyk na die moontlike aankoop van so ’n trok om al hierdie pyplyne skoon te hou. Dit sal tot groot voordeel van die hele gemeenskap wees. Een van die groot probleme op die dorp, wat ongelukkig as gevolg van onderhoud wat in die verlede nie behoorlik gedoen is nie gebeur het, is dat stormwaterpype verstop word en mens kan dit nie met die hand oopmaak nie. Hierdie trok sal daarmee help en ook met verstopte rioolpype. Voor ons dit sal kan doen, sal ons ook al ons pyplyne op standaard moet kry.
Sodra ons dit kan doen sal hierdie trok help met voorkomende optrede sodat pype nie weer verstop word nie,” het Swart gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Oplossing vir pyplyn-probleme?
So lyk die trok wat kan losspuit en uitsuig. Foto: Stefan Skapie Goosen