Slaggat-inisiatief: Oudtshoorn burgemeester vra inwoners se bydrae

Tydens die mediasessie waar die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson (heel links) sy slaggat-inisiatief bekendgestel het is, van links Jerome Moses ingenieurstegnikus: paaie en stormwater), Johan Scholtz (eienaar van Dense Seal), Arthur Kelepu (senior bestuur-der: paaie en stormwater) en Johan Fourie (raadslid). Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het onlangs te midde van swaar reën wat die slaggat-probleem op Oudtshoorn vereger het, ’n inisiatief geloods waardeur hy inwoners wil aanmoedig om verantwoordelikheid vir hul eie gemeenskappe te neem, al is dit net tydelik tot die Munisipaliteit self die groter probleem kan oplos.

Hierdie inisiatief verg dat enige inwoner wat daarby betrokke wil raak self die kleiner slaggate in hul buurte of gemeenskappe kan regmaak, met ’n bietjie swoeg en sweet en die aankoop van ’n slaggat-vuller, of altans “Pothole Repair Mix” teen R90 per sak, sê Macpherson.

Hierdie vuller – wat in een sak alle middels bevat om ’n slaggat die grootte van twee A4-papiervelle te vul – word teen ’n verminderde prys aan Oudtshoorniete gebied, is geproduseer deur Dense Seal en is bekombaar by Van der Berg Vervoer op Oudtshoorn.

“Die aanvraag hiervoor het al van vele inwoners gekom wat self eienaarskap van hul strate wil neem en slaggate regmaak,” voeg hy by.

Daar is wel sekere stappe wat gevolg moet word:

  • Inwoners wat bereid is om dit te doen, moet eers die Munisipaliteit in kennis stel.
  • Die volgende tydelike WhatsApp-nommer kan vir kennisgewing gebruik word en om die verwysingsnommer te kry om slaggate reg te maak: 078 802 7724.
  • Die WhatsApp-kennisgewing moet jou naam en van insluit, die straat waar jy die slaggat gaan regmaak asook die datum wanneer die slaggat reggemaak gaan word.
  • Nadat die kennisgewing aan die Munisipaliteit gestuur is, sal inwoners ’n verwysingsnommer ontvang om aan die diensverskaffer te gee om die slaggat-herstelmengsel te koop.
  • Stap-vir-stap infografika – soos hier onder uitgebeeld – sal deur die diensverskaffer aan jou gegee word, hierdie infografika sal ook op die munisipale web-werf wees.
  • Werk moet volgens die stap-vir-stap inligtingstuk uitgevoer word.
    Besoek oudtshoorn.gov.za. (Deur Stefan Skapie Goosen)