’n 23-jarige man van Schoemanshoek wat sy pa met ’n klip teen sy voorkop gegooi en aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is, is verlede week in die streekhof ’n stywe boete van R50 000 en vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Nathan Olckers is kort nadat hy die aand van 3 April 2022 van die werk by die huis aangekom het, deur sy pa, Gerrit Fortuin, daarvan beskuldig dat hy sy wyn uitgedrink het.
In die woordewisseling wat gevolg het, het hy uit woede ’n klip opgetel en sy pa daarmee gegooi waarvoor hy hospitaalbehandeling moes ontvang.
Dit was sy ma wat die helfte van haar man se wyn weggesteek het
Olckers se pleitverduideliking is deur die staat aanvaar en hy is deur streeklanddros Ntsoki Moni skuldig bevind.
Sy regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof versoek om Olckers ’n opgeskorte vonnis op te lê omdat hy skuldig gepleit en berou toon oor wat hy gedoen het.
Sy pa wou ook die saak teen sy seun terugtrek.
Die landdros het die vonnis in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort en aan Olckers gesê sy hoop dat hy nooit, ooit weer sy hande vir sy ouers sal oplig nie. (Deur Garnett Wicomb)