Susan Lewies (49) van Dysselsdorp wat haar 17-jarige seun die aand van 23 Junie 2019 met ’n mes doodgesteek het, is in die Oudtshoorn Streekhof skuldig bevind aan strafbare manslag. Sy is ’n opgeskorte vonnis opgelê asook vir drie jaar onder korrektiewe toesig geplaas.
Lewies het ’n pleit- en vonnis-ooreenkoms met die staat aangegaan waarin sy onskuldig pleit op ’n klagte van moord, maar skuldig op ’n klagte van strafbare manslag.
Haar seun, Dylan, het volgens haar die aand van sy dood tuisgekom en die komberse van haar afgetrek en haar beledig,
Hy is toe na die kombuis en sy is agterna om hom te probeer kalmeer. Die ooreenkoms is deur haar regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, aan die hof voorgelees.
“Hy het toe ’n mes in sy hand gehad waarmee hy my wou steek, maar ek het daarin geslaag om dit by hom af te vat.”
Sy het teruggestap na haar slaapkamer toe haar seun haar van agter stoot en verder beledig. Sy het omgedraai en hom een keer in die bors gesteek waarna hy neergeval het. Sy het ’n ambulans gebel, maar haar seun is op die toneel dood.
Volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, is sy ’n eerste oortreder en toon berou.
Lewies het erken dat sy kwaad en nalatig was en baie spyt is oor wat sy gedoen het.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het Lewies gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf wat in geheel vir vyf jaar opgesskort is, en drie jaar huisarres behalwe vir werk- en kerkdoeleindes. Sy moet haar ook weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol. (Deur Garnett Wicomb)