Dwelms net syne, sê een van drie aangeklaagdes

DIE saak teen drie mans wat van dwelmhandel en een ook van roekelose bestuur aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak uitgestel. Simphiwe Ndoni (30), Ephrahim Malgas (40) en Anrich Williams (28) word daarvan aangekla dat hulle op 14 Maart 2019 in besit was van dwelms en Williams ook roekeloos bestuur het. Die alternatiewe klagte is besit of gebruik van dwelms.

Ndoni en Malgas sê in hul waarskuwingsverklarings dat hulle die dag ’n rygeleentheid by Williams gekry het. Volgens Ndoni het hulle ’n polisievoertuig by die Springbokweg-aansluiting sien staan en toe Williams wou stilhou, het hy hom versoek om dit nie te doen nie omdat hy pille en tik by hom gehad het.

Williams het toe weggejaag waarna hulle agtervolg is. Tydens die jaagtog het hy van die dwelms ontslae geraak.

Hulle is in Rossouwstraat voorgekeer en in hegtenis geneem waarna honde nog dwelms in die voertuig uitgesnuffel het. Volgens Ndoni het die dwelms aan hom behoort en was Malgas en Williams nie daarvan bewus nie. (Deur Garnett Wicomb)