Waarnemende hoof van gemeenskapskorreksies sterf

DIE waarnemende hoof van Gemeenskapskorreksies (Gemkor) op Ladismith, Heldegardt Prins (47), het Sondag (20 Julie 2020) in die vroeë oggendure haar agtjaarlange stryd teen kanker verloor.

Prins het in 1996 by die destydse Zoar Bestuursraad begin werk, en op 1 Augustus 1997 haar aangesluit by die Departement Korrektiewe Dienste op Ladismith.

Sy het later jare by die afdeling Gemeenskapskorreksies begin werk.

Prins is in 2012 met borskanker gediagnoseer. Na ’n mammektomie en met die kanker in remissie het sy steeds haar skoene by die werk met waar­digheid volgestaan.

Jan Tities, streekoffisier in die Suid-Kaap, het haar aangedaan bestempel as ’n trotse amptenaar wie se werk altyd stiptelik en foutloos gedoen is.

“Selfs nadat haar dokter aanbeveel het dat sy moet ophou werk, het sy steeds nougeset voortgegaan.

“Sy het altyd haar dogter Hailey, wat nog op skool is, as motivering gebruik om aan te hou werk. Korrektiewe Dienste verloor ’n rots.”

Hailey is nou 16 jaar oud en nog op skool.

Prins het die laaste tyd na konsultasie tussen haar dokter en familie na haar ouerhuis op Zoar teruggekeer, waar haar familie na haar omgesien het.
Haar begrafnis vind Saterdag (26 Julie) vanuit die St Agnes Anglikaanse Kerk op Zoar plaas. (Deur Deon Meyer)