AfriForum gee nartjies vir bejaardes

DIE burgerregteorganisasie AfriForum het begin Julie 300 kg nartjies aan ouetehuise in George, Mosselbaai en Oudtshoorn geskenk as deel van die organisasie se immuunstelsel-inisiatief.

Nartjies is aan Rosemoor op George, Ons Huis op Mosselbaai, asook Gottland Huis, Helen Bellinganhof en Tuishuis op Oudtshoorn geskenk.
“Ons wil mense met hierdie inisiatief bewus maak van die voordele wat vitamien C vir die mens se immuunstelsel inhou en het besluit om slegs op bejaardes te fokus,” sê Deon de Jager, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die suidstreek.

AfriForum het met dié inisiatief, wat moontlik gemaak is deur ruim skenkings vanuit die Langeberg-distrik, sowat 9 000 bejaardes bereik.
Stuur ’n e-pos na deon.dejager@afriforum.co.za om by dié projek betrokke te raak.