Die 60-jarige Johannes Saayman, ’n boer van Buffelsjachtsfontein in die Calitzdorp-distrik, wat sy vrou (57) die aand van 26 Junie 2021 ernstig aangerand het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn streekhof ’n opgeskorte vonnis van 24 maande opgelê ingevolge ’n pleit- en vonnisooreemkoms wat hy met die staat aangegaan het.
Saayman sê in sy pleitooreenkoms dat hy en sy vrou die betrokke dag ’n troue op Oudtshoorn bygewoon het en sy vroeg wou huis toe gaan.
Onderweg huis toe was hulle in ‘n woordewisseling en toe hy op die Calitzdorp-pad stilgehou het, het sy uitgeklim.
Hy het ook uitgeklim waarna hy sy humeur verloor het en haar glo met die agterkant van sy hand geklap dat sy op die grond neerval.
Terwyl sy op die grond gelê het, het hy haar met sy vuiste in die gesig gestamp en op die grond rondgesleep. Hy het erken dat hy verkeerd opgetree het en die beserings volgens ʼn mediese verslag, bevestig. Hy het ook erken dat hy onder die invloed van alkohol was en die klaer om verskoning gevra het.
Volgens sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die klaer die pleitooreenkoms onderteken en is hulle intussen geskei.
Volgens die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, moes die 57-jarige klaer hospitaalbehandeling ontvang vir haar beserings en het sy sedertdien nog nie weer met die beskuldigde gepraat nie. Sy verwag egter nie dat hy tronk toe gestuur moet word nie.
Die aanklaer het beklemtoon dat die beskuldigde aan ’n ernstige misdaad skuldig bevind is, waarvoor die minimum voorgeskrewe vonnis tien jaar gevangenisstraf is.
Saayman is skuldig bevind op een klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en is deur streeklanddros Ntsoki Moni, volgens die vonnisooreenkoms met die staat, tot 24 maande gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Omdat geen wapen tydens die aanranding gebruik is nie, het die verdediging die hof versoek om nie Saayman ongeskik te verklaar om ‘n vuurwapen te besit nie. (GARNETT WICOMB)
Opgeskorte vonnis vir boer wat vrou aanrand
Generiese foto