Goeie nuus wink vir Oudtshoorn, met ’n nuwe projek vanaf SANRAL (Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap).
‘Operation Vala Zonke’ is in die lewe geroep om munisipaliteite behulpsaam te wees met die herstel van slaggate.
Oudtshoorn Munisipaliteit het reeds op 11 September geregistreer om deel te wees van die projek.
Die munisipaliteit is tans besig met ’n fisiese opname van alle slaggate wat dan aan SANRAL deurgegee word. Die munisipaliteit is ook besig om met SANRAL ooreen te kom op welke wyse befondsing sal geskied. Intussen gebruik die munisipaliteit fondse uit kapitaalprojekte om noodherstelwerk te doen.
R127 000 is deur die provinsie gegee spesifiek vir herstelwerk aan die twee provinsiale paaie in die dorp. Om al die strate te herstel sal miljoene der miljoene kos.
“Tans fokus ons op die hoofpaaie wat die meeste verkeer dra, daarna sal ons oorbeweeg na kruisings en woongebiede, waar daar ook gekyk sal word na watter paaie binne woongebiede die meeste verkeer dra en hul eerste herstel word,” het Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn Dinsdag aan Die Hoorn tydens ’n media sessie gesê.
Met al die reën vorm daar al hoe meer krake en paaie disintegreer wat dan lei tot slaggate wat vorm.
Operasie ‘Vala Zonke’ takel slaggate
Hoogstraat, Oudtshoorn het steeds verskeie slaggate, maar werk aan die pad het reeds begin. Foto: Angelique Erasmus