
Laas oorgeloop in November 2015
Skaars ’n paar uur na Die Hoorn se besoek aan die Kammanassiedam op Woensdag toe die water gelyk was met die uitlaat, het die wonderlike tyding gekom Woensdagmiddag laat dat die Kammanassiedam oorloop. Sien hierbo video’s en foto’s verskaf.
Hier volg die oorspronklike berig:

Die Kammanassiedam, net buite Oudtshoorn staan tans op 99,99%, met tekens dat hy reeds plek-plek begin oorloop wanneer die wind in die middae opsteek. Foto: Angelique Erasmus
Daar word met groot afwagting gewag vir die oomblik wanneer die Kammanassiedam, net buite Oudtshoorn vir die eerste keer sedert 2015 gaan oorloop. Die dam staan letterlik op 99,99%.
Dit is ongelooflik om te dink dat ’n dam wat 5 jaar gelede in 2018, dolleeg en kurkdroog was nou propvol water is en die water loop steeds in.
Die Kammanassiedam is 100 jaar gelede in 1923 voltooi, en ontwerp deur die Kammanassie Besproeiingsraad, waarvan CJ Langenhoven die regsadviseur was.
Hierdie gravitasiedam, wat ook ’n gronddam is, is 35 meter diep, met ’n kapasiteit van 35 870 kubieke meter water wanneer hy vol is. Die hoofdoel van die dam is vir besproeiing en verskaf water vir boere tot sover soos Calitzdorp.
Die woord Kammanassie beteken “Berg van water” en is ’n Khoisan woord.
Die verligting vir verskeie boere is groot, nadat die Klein Karoo vir agt jaar deur ’n erge droogte gegaan het, en baie gedeeltes nader aan Calitzdorp en veral die De Bad area die swaarste gekry het. Menige boere en inwoners se harte juig oor hierdie ongelooflike mooi beeld wanneer die dam so vol gesien kan word.
In 2020 het Die Hoorn berig toe lede van die Stompdrift-Kamanassie
Watersverbruikersvereniging vir die eerste keer water gekry het, nadat die laaste waterbeurt in November 2016 was.
Daar was egter verskeie kere na 2020 waar boere ’n beperkte beurt gekry het, toe damvlakke baie laag was.
Boere word genooi om kontak te maak met Die Hoorn vir ’n fotogeleentheid wanneer die dam uiteindelik wel oorloop, en die oomblik vasgevang sal word vir ’n ewigheid. Kontak gerus vir Angelique Erasmus by 076 606 2554. (Deur Angelique Erasmus)

Die sluis laat tans sowat 30 kusek water uit, wat water aan boere verskaf.

Kammanassiedam vanaf die oorkantste oewer afgeneem.

Die Hoorn joernaliste kon nie die kans laat verby glip met die geskiedkundige oomblik en het voete nat gemaak.

Kammanassiedam in die droogtetyd.