GROOT getalle dooie visse in die Olifantsrivier is waarskynlik die gevolg van gedeeltelik behandelde riool wat in die water beland het.
Volgens bekommerde inwoners van die Bakenskraal-omgewing buite Oudtshoorn het hordes dooie vis Donderdag, 17 Maart, in die Olifantsrivier begin dryf.
Hierdie inwoners, insluitende boere van die omgewing, het vermoed dit kan ’n teken van ’n natuurramp wees, en moontlik nadelig vir die omgewing én mense rondom die rivier as hulle dalk van die visse sou eet.
Volgens Chris Swart, senior bestuurder: tegniese dienste by die Oudtshoorn Munisipaliteit, is die visvrektes moontlik ’n gevolg van probleme by die Oudtshoorn Rioolplaas langs die Rooiheuwelpad.
Hy sê een van die skroefpompe wat gebruik word tydens die rioolbehandelingsproses het op 3 Maart gebreek. “Ons mobiele pompe kon nie al die inkomende riool weggepomp kry nie, en van die riool is deur ons oksidasiedamme herlei.
“Ongelukkig het daar gedeeltelik behandelde riool in die rivier beland, wat waarskynlik aanleiding tot die visvrektes gegee het. Die riool wat in die rivier beland, onttrek die suurstof uit die water wat dan lei tot die visvrektes,” het hy gesê.
’n Noodpomp is volgens Swart intussen geïnstalleer en die proses is sedert die naweek voor die visvrektes weer normaal.
Swart het gesê die voorval is dadelik by die Departement Water en Sanitasie (DWS) aangemeld en dit word deur die munisipaliteit se omgewings-afdeling sowel as DWS gemoniteer.
“Aanvaar asseblief ons verskoning vir enige ongerief wat ondervind word. Daar word hard ge-werk daaraan om herhalings van dié aard in die toekoms te voorkom,” het Swart gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Oorsaak van visvrektes bekyk
Die visvrektes wat in die Olifantsrivier in die Bakenskraal-omgewing voorgekom het. (Foto verskaf.)