’N AANSOEK van Juan Steyn (27) van Oudtshoorn om te appelleer teen sy skuldigbevinding aan poging tot moord op twee mense, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys. Sy aansoek om borgtog is ook geweier.
Steyn is vroeër deur streeklanddros Sylvia Mandla daaraan skuldig bevind dat hy op 20 April 2016 die lewens van Mei Willemse en Hendrik Mars, wat saam met hom by Oudtshoorn Engineering gewerk het, in gevaar gestel het toe hy diesel aan die brand gesteek het in ’n put onder ’n ambulans waarvan hulle die brandstoftenk verwyder het.
Willemse en Mars het getuig Steyn het aan hulle gese dat hy vuurhoutjies gaan soek om te kyk of Willemse “een vuurhoutjie werd is”.
Steyn het hul weergawes as onwaar afgemaak maar die hof het Willemse en Mars as geloofwaardige getuies bevind. Hulle is glo ook R10 000 aangebied om die saak stil te hou.
Steyn het getuig dat hy self erge brandwonde opgedoen het en in die intensiewe eenheid van die hospitaal behandel moes word.
Hy het in sy aansoek die mening uitgespreek dat ’n ander hof dalk tot ’n ander bevinding kan kom, maar die hof het bevind dat die vooruitsigte daarvoor uiters skraal is, omdat hy reeds ’n ligte vonnis van vyf jaar opgelê is, en na die uitdiening van tien maande om parool aansoek kan doen. Die hof het ook sy persoonlike omstandighede in ag geneem
Steyn se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel het die hof na die weiering om te appelleer meegedeel dat hy hom tot die Kaapse Hooggeregshof wil wend en om borgtog gevra omdat so ’n aansoek tot 18 maande kan duur. Die hof het egter ook die borgaansoek geweier. (Deur Garnett Wicomb)