Gewilde Spoegwolf vier hul 10de jaar by fees

Die gewilde alternatiewe rockgroep Spoegwolf is op Vrydag 1 April te sien by Celebratio buite Oudtshoorn. Foto verskaf

DIE Afrikaanse alternatiewe rockgroep Spoegwolf is op Vrydag 1 April te sien op die plaas Celebratio buite Oudtshoorn as deel van vanjaar se KKNK.

Spoegwolf, met Danie en Moskou du Toit, Albert van der Merwe en Chris von Wielligh, kyk in die produksie Spoegwolf: 10 Jaar terug op ’n dekade propvol hoogtepunte en toekennings wat hul wildste verwagtinge oortref het.

Toe dié groep boorlinge van die Paarl in 2012 Spoegwolf gestig het, het hulle nog net daarvan gedroom om voor duisende mense op te tree. Hulle was tevrede met 50, selfs 20 mense by ’n konsert. Een van dié konserte was juis by die KKNK in 2012 en daar was “baie min mense”.

Maar sewe jaar later in 2019 toe die viertal se album Koma uitgereik word, het alles verander. Twee dae later was dit nommer een op Apple Music se album-trefferlys – ’n eerste vir ’n Afrikaanse groep, met 11 van die 14 liedjies in die top 100.

Daarna het talle albums gevolg met die groep se gewildheid wat net verder toegeneem het.
Hul sukses kan toegeskryf word aan ’n paar dinge – die lirieke wat met ’n mens praat, die slim musiekverwerkings, hul energie op die verhoog, hul interaksie met die gehoor en aanhangers en die feit dat hulle weier dat iemand hulle in ’n boksie sit. Hulle is konstant besig om uit te daag, te vernuwe en die grense te verskuif.

Dis ook hoekom asems opgehou word vir hul jongste album, wat volgens beplanning voor die groep se optrede by Celebratio vrygestel sal word. Want Danie, Moskou, Albert en Chris sorg altyd vir ‘n verrassing.
Konsertgangers wat Spoegwolf: 10 Jaar bywoon, kan splinternuwe liedjies verwag, asook van die groep se grootste treffers.

En moenie ’n fout maak om te dink dis net tieners en mense in hul twintigs en dertigs wat aan hul lippe hang nie. Die profiel van hul aanhangers is, net soos hulle, verrassend divers.

Kos- en drankstalletjies maak 18:00 oop en die konsert begin 20:00. Celebratio is ’n granaatplaas sowat 30 km buite Oudtshoorn op die Ou Sementpad. Geen grondpad hoef gery te word nie en alle sitplekke is bespreek. Kaartjies kos R250 en is beskikbaar by www.webtickets.co.za. Vir navrae kontak Gerhard Meyer by 0828027138.