Vier vanjaar so die KKNK – gratis en goedkoop

AL word Baron van Reedestraat nie tydens vanjaar se KKNK soos in die verlede afgesper nie, is toegang tot die Netwerk24-feeskafee wat in die CP Nel Museum sal wees, gratis.

Hier sal die gewilde Die Burger Praat Saam-reeks en KKNK se Boekstories aangebied word. VIA sal sorg vir vermaak met die Bier-uur met Beer Adriaanse en elke aand vanaf 21:00 speel die Netwerk24-feeskafee gasheer vir Laatnag, ’n plek waar jy kan ontspan en die dag afsluit met laatnag-musiek. Dit is ook die tuiste van die Boekeparadys en nog meer.

• Ook gratis is die visuele kunsuitstallings by Prince Vintcent in Baron van Reedestraat – van Dinsdag tot Sa­terdag van 09:00 tot 18:00. Daar is ook gereeld gesprekke en rondlei­dings. Elke dag om 15:00 is daar gratis kinderkuns-vermaak wat kinderrondleidings en -aktiwiteite insluit.

Feesmark
Die middelpunt van feestelikhede is vanjaar die KKNK Feesmark by die De Jager Sportkompleks.

Dagtoegang is R50 met die Feesmark wat van 10:00 soggens tot 21:00 saans oop is en gesinsvermaak, kosstalle­tjies, kroeë, speelplek vir die kinders, wynproe, deli-produkte en stalletjies bied. By die Castle Lager-verhoog sal ster­re soos Demi-Lee Moore, Juanita du Plessis, Karin Kortje en Early B asook belowende sterre optree.

By die kykNET-leefarea kan Fees­gangers hul gunstelingakteurs en -aanbieders ontmoet.

’n Pretpark maak ook soos voorheen deel uit van die Feesmark.

Ook by die fees
Die Absa Rooiplein is ’n oase by die Absa Burgersentrum wat die Absa Kuierkamer en die Absa Kuiertuin insluit met gratis toegang. Verskeie erva­rings word hier tus­sen 10:00 en 16:00 aangebied. Dit sluit die Absa Koffie­tafelkuiers in, aangebied deur televisieaanbieder Han­­nes van Wyk, by die Absa Kuierkamer. Vir kuns­liefhebbers is daar die kunsgesprekke smiddae met dr Paul Bayliss, Absa se senior spesialiskunskurator.

David Piedt-gedenklesing
Die eerste dr David Piedt-gedenk­lesing vind in die Absa Kuierkamer plaas. Heindrich Wyngaard bied op 1 en 2 April twee gesprekke aan as deel van die KLOP!-gespreksreeks. Op Vry­dag gesels hy in die Absa Kuier­kamer, en die Saterdag sal hy die gesprek by Aurial College in Springbokweg voortsit.

• Besoek die Toekomsrussaal vir die Karoo Kaarte-kunsuitstalling, rond­leidings en werksessies.

• Die fees is vanjaar kontantloos. Debiet- en kredietkaarte is oral wel­kom en kontant kan op ’n Absa/ Howler-kaart by een van die vele dienspunte op die feesterrein. Alkohol móét daarmee betaal word.

Enige balans op jou Absa/Howler-kaart kan dadelik aan jou uitbetaal word by enige dienspunt op die feesterrein.