SANW gebruik lughawe vir nagvlug-opleiding

CASA C212 Aviocar medium vragvliegtuig Foto: DefenceWeb

DIE vliegtuig oor die dorp waaroor Oudts­hoorniete die afgelope ruk vele vrae gehad het, was ’n CASA C212 Aviocar medium vragvliegtuig waarmee die SANW nagvlug-vliegoplei­ding by die Oudts­hoorn Lughawe gedoen het.

Luidens ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat gister uitgerereik is, het die SANW 40 soldate op Oudtshoorn opgelei, en sal dié opleiding voort­aan jaarliks geskied.

“Die weermag reël hul vliegskedule vroegtydig,” sê Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit.

“Hulle het nie toestemming nodig om snags te vlieg nie en is vrygestel van burger­like vliegtuigbeperkings.”

Oudtshoorn se burgemeester, Chad Louw, het gesê dié opleiding is ’n positiewe ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn. “Ons moet onthou dat die weermag hierdie opleiding doen vir ons veiligheid. Ons kan dit as ’n prestasie beskou dat Oudtshoorn vir sodanige opleiding gekies is.”

Louw het ’n beroep op inwoners gedoen om nie lasers en flitsligte op vliegtuie te skyn nie, omdat dit ’n vlieënier se lewe in gevaar stel.

“Dit is rede tot kommer omdat enigeen wat hiermee betrap word, van moord aan­gekla kan word, ’n tronkstraf van 10 jaar of ’n boete van R100 000 kan kry.”