Ontevrede jongmense versper N12 by
uitgang met brandende voorwerpe, klippe

Ontevrede jongmense versper N12 met brandende voorwerpe, klippe

Rye klippe is Dinsdag op groot dele van die N12 by Oudtshoorn se uitgang na Dysselsdorp en De Rust gepak deur ontevrede jongmense. Foto: Stefan Skapie Goosen

KINDERS en jongmense het Dinsdag die N12 in die omgewing van Rosevalley by die uitgang van Oudtshoorn na Dysselsdorp en De Rust met klippe, rotse, brandende bande en ander brandende voorwerpe versper, vermoedelik as gevolg van ontevredenheid oor werksgeleent­hede.

Dié puin het Dinsdag oor sowat’n kilometerlange gedeelte van die pad gelê, met voertuie van beide kante af wat óf moes omdraai, óf baie stadig en versigtig deur die rommel moes ry.

Met Die Hoorn se aankoms op die toneel was ’n groep jongmense, party jong kinders, besig om klippe en glasbottels in die pad te gooi. Nadat hulle eers ’n paar vloekwoorde en beledigings in die joernalis se rigting geslinger het, het een geskree: ‘Ek het klaar matriek geskryf, maar ek kry nie werk nie!’

Dit was die eerste aanduiding oor die waarskynlike rede vir dié protes­aksie.

Verder weg in die pad was ’n groter groep mense besig om nog iets aan die brand te steek. Toe ’n eerste poli­sievoertuig egter op die toneel aan­gekom het, het hulle in verskillende rigtings gespat.

Met die aankoms van nog polisie­voertuie het die klein skare mense verder uitgedun.

Die polisie het egter op die toneel aangebly en die situasie gemoniteer.

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Po­lisie, was sowat 40 mense, waarvan die “meerderheid kinders”, betrokke by die aksie.

“Na bewering is die inwoners van Rosevalley ontevrede oor werksge­leenthede,” het sy gesê.
Volgens Michaels is niemand in hegtenis geneem nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)