Calitzdorper gevonnis vir roof, diefstal, huisbraak, aanranding

’N 28-JARIGE man van Calitzdorp wat skuldig bevind is op klagtes van huisbraak, roof, aanran­ding om ernstig te beseer en diefstal is in die Oudtshoorn Streekhof tot altesaam 10 jaar en ses maande gevangenisstraf gevonnis.

Die hof het bevind Nicolaas May het by die huis van Cornelius Wagenaar ingebreek met ’n doel onbekend aan die staat. Hy het op dieselfde dag sy suster, Jacoleen May, met ’n gebreekte bottel ge­dreig en in die gesig ge­stamp.

Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy ’n jong seun van sy selfoon beroof en ’n potplanthouer van Magdalene Randall gesteel het.

Streeklanddros Sylvia Mandla het in haar uitspraak gesê May het sy weergawe van gebeure voortdurend aangepas en net leuens in die hof vertel.

Sy kon geen redes vind om nie die getuienis van die klaers en ander getuies te aanvaar nie.

Wat die huisbraak betref, het die hof bevind dat niks gesteel is nie.

Verswarend egter was die feit dat hy ’n kind van sy selfoon beroof het en sy eie suster aangerand het.

Sy suster het hom egter vergewe en wou die saak terugtrek.

May is ’n opgeskorte vonnis van drie jaar vir huisbraak opgelê, ses jaar vir roof ingevolge Artikel 276 (1) (i), 12 maande vir aanranding en ses maande vir diefstal.

Die hof het gelas dat die vonnisse vir aanranding en diefstal gelyktydig met die vonnis vir roof uitgedien kan word.

Dit beteken dat hy na 12 maande in die gevangenis om parool aansoek kan doen.

Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)