SOWAT 80 inwoners van Smartie Town in Oudtshoorn het Maandagoggend (5 Julie) hul ontevredenheid oor kontrakwerk in hul omgewing te kenne gegee deur brandende motorbande en groot klippe in die pad te plaas om dit te versper.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die groep by die Smartie Town-sirkel bymekaar gekom en ’n onwettige betoging gehou.
“Hulle was ontevrede oor die aanstelling van kontrakteurs,” het sy gesê.
Michaels het ook gesê dat, hoewel niemand tydens die betoging beseer of in hegtenis geneem is nie, ’n saak in verband met die oortreding van die wet op onwettige byeenkomste ondersoek word.
’n Inwoner van die omgewing, wat homself nie wou identifiseer nie, het later die oggend aan Die Hoorn gesê die betoging het gegaan oor werk wat in die omgewing moes plaasvind. Inwoners was ontevrede omdat hulle nie die werk gekry het nie.
’n Navraag oor die optrede is aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd Woensdag is terugvoer nog nie ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Ontevrede inwoners brand bande en versper Dassieweg met klippe
Dassieweg na protesaksie van inwoners van Smartie Town Maandag, 5 Julie; met uitgebrande motorbande en klippe in die pad. Motoriste moes mooi ry om dit mis te ry en nie voertuie te beskadig nie.