Bridgton biblioteek gaan nie sluit

Foto: Facebook

’N INSKRYWING op ’n Facebook-blad dat die Bridgton Biblioteek gaan sluit, is nie korrek nie. Dié biblioteek gaan nie sluit nie.

So het die woordvoerder van die Groter Oudts­hoorn munisipaliteit, Ntobeko Mangqwenqwe, gister op ’n navraag van Die Hoorn gereageer nadat die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief op hul Facebook-profiel gesê het die biblioteek gaan sluit, en inwoners heftig daarop gereageer het.

“Dit is uiters onverantwoordelik van ’n gemeenskapsorganisasie om inligting – wat die potensiaal het om paniek te veroorsaak en mense te ont­stel – onverskillig te versprei.

“Dit is onaanvaarbaar en dit moet stop, want dit is nie net oneties nie, maar ook misleidend,” het Mangqwengqwe gesê.

“Die sluiting van ’n biblioteek is groot nuus. Die munisipaliteit sou sulke nuus beslis pro-aktief met die gemeenskap gedeel het.

“Biblioteekdienste val voorts onder die Wes-Kaapse provin­siale regering, en ’n munisipaliteit kan dus nie ’n biblioteek sluit nie.”

Biblioteke landwyd is egter wel tans gesluit as deel van die Vlak 4-regulasies wat tans in die land geld.

Volgens Mangqwengqwe het die munisipaliteit verlede week op sosiale media die riglyne van die Wes-Kaapse Biblioteekdienste vir Vlak 4 gekommunikeer – dat alle biblioteke in die provinsie tydelik sluit ingevolge Vlak 4-regulasies tot met pres Cyril Ramaphosa se volgende aankondiging op waarskynlik Sondag, 11 Julie.

’n Navraag oor beweerde befondsingsprobleme van die Groter Oudtshoorn se biblioteke is aan die munisipaliteit en die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport, onder wie die Wes-Kaapse Biblioteekdienste val, gestuur vir reaksie en terugvoer. Teen druktyd was reaksie nog nie ontvang nie. (Deur Liesel le Roux)