Die aankondiging dat drankverkope onder die Vlak 4-regulasies vir twee weke moes sluit, het vir Reinette Bergh, verkoopsassistent by ’n plaaslike drankwinkel, bekommerd gehad.
Die verbod kan daartoe lei dat sy haar inkomste verloor.
“Ek het nagmerries hieroor begin kry. Ek kan nie sonder inkomste wees nie en om niks te doen is nie in my geaardheid nie.
“Uit gesprekke met ander is toe die idee van my pynappelstalletjie gebore.”
Reinette het vir haar `n geskikte staanplekkie in die hoofstraat gevind, waar sy nou daagliks haar produkte verkoop.
Die stalletjie is besig en ’n mens wag goed 15 minute lank om met haar te kan praat.
“Ek kry my pynappels en nog ander groente teen billike pryse van die mark op Oudtshoorn en kan saam met ’n biermengsel ’n taamlike wins maak.
“Die pynappels vlieg van my rakkies af. Ek verkoop die biermengsel ook sodat die koper self kan besluit of hy sy drankie ’n skop wil gee.
Dit is mos deel van ons kultuur!” sê ’n opge-wekte Reinette.
“Op ’n All-Pay-dag soos vandag is ek besig. En dit is asof die gospelmusiek van die stalletjie oorkant die straat die mense al singende my produkte laat koop!”
Op `n vraag of sy nie dalk skuldig voel oor die kombinasie van pynappels en biermengsel wat sy verkoop nie, antwoord die skerp vrou: “Man, ek verkoop nie drank nie, ek verkoop net pynappels en King Korn!” (Deur Deon Meyer)
