VYF verdagtes is die naweek in hegtenis geneem en beslag is gelê op ’n groot hoeveelheid dwelms danksy die herinstelling van die SAPD se landelike blitspatrollie-eenheid in die Suid-Kaap.
Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is lede verbonde aan die blits-patrollie strategies by toegangsroetes na die Wes-Kaap ontplooi, onder meer op die N2 en N9, waar hulle onderskeidelik Saterdag (3 Julie) en Sondag (4 Julie) op dwelmhandelaars toegeslaan het.
In die eerste geval het lede van die eenheid Saterdag omstreeks 21:20 ’n voertuig wat op pad na Oudtshoorn was op die N9 voorgekeer en deursoek. Die beamptes het toegesien dat motorryers Covid-19-regulasies en die aandklokreël nakom.
Spies het gesê die Polisie het op 25 kg dagga beslag gelê en by verdere ondersoek op ’n kontantbedrag – na bewering die opbrengs van onwettige dwelmhandel – afgekom.
Die vier insittendes is in hegtenis geneem op aanklag van die handel in dwelms en het Maandag (5 Julie) in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn, het Spies gesê.
In die tweede geval op Sondag (4 Julie) by ’n voertuigbeheerpunt op die N2-snelweg by Plettenbergbaai is ’n 27-jarige passasier van ’n silwer Mazda in hegtenis geneem. Die Polisie het die motor deursoek en 2,6 kg dagga, wat onder baga-sie versteek was, gevind. “Die dwelms is verbind met die 27-jarige insittende,” het Spies gesê.
Die verdagte sal in die hof verskyn op aanklag van die besit van dwelms.
Die bestuur van die Wes-Kaapse polisie was vol lof vir die polisielede se toegewydheid en bydraes om dwelmhandel uit te roei, het Spies gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Blitspatrollie terug in die Suid-Kaap
Van die dwelms wat op Oudtshoorn en Plettenbergbaai deur Polisie gekonfiskeer is.