Dié munisipale werknemers ontevrede oor Covid-maatreëls

Die toneel, Dinsdag 6 Julie, by die Oudtshoorn munisipale depot in Dassieweg waar werknemers van die munisipaliteit onder meer bande gebrand het. Die polisie was ook op die toneel. Foto: Stefan Skapie Goosen

WERKNEMERS verbonde aan die Oudts­hoorn Munisipaliteit se tegniese dienste-afdeling het Dinsdag (6 Julie) brandende bande voor die ingang van die munisipale depot in Das­sieweg geplaas weens hul ontevredenheid oor die “swak” manier waarop die munisipaliteit Covid-maatreëls in hul werksplek toepas.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, moes die openbare orde polisie-eenheid ingeroep word om die situasie te moniteer, maar is niemand is in hegtenis geneem nie.

“Die protesaksie hou verband met Covid-19-regulasies.

“Volgens werknemers word Co­vid-19-regulasies nie toegepas nie,” sê sy.

’n Verteenwoordiger van die groep werkers wat homself slegs as Sakkie geïdentifiseer het, het op ’n navraag oor hoekom die werkers motorbande gebrand en ophou werk het, bloot net gesê: “Covid”.

Hy wou nie uitbrei oor hul griewe nie.

’n Medewerker op die toneel, wat gevra het om anoniem te bly, het gesê dat die werkers ongelukkig is oor omstandighede rakende Covid-regulasies in die werksplek en dat hulle nie deur die munisipaliteit beskerm word nie.

“Ons word byvoorbeeld geforseer om beknop in voertuie te sit, en te naby aan mekaar te werk, en niks word gesaniteer nie.

“Hulle moet ons op skofte plaas om ons te beveilig,” het die anonieme man gesê.

Verteenwoordigers van die Munisipaliteit was later Dinsdag op die toneel om met die ontstoke werkers oor hul besware te gesels.

’n Navraag oor die voorval is Dinsdag na die munisipaliteit toe ge-stuur, maar teen druktyd Woensdagmiddag is nog geen terugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)