Man vrygespreek toe vriendin weier om in hofsaak te getuig

’N Man van Bridgton wat van menseroof en aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof onskuldig bevind en vrygespreek toe die klaer ontken het dat sy ontvoer en aangerand is.

Samuel Sass is daarvan aangekla dat hy die aand van 4 Oktober 2020 sy vriendin, Marion Johannes, ge­dwing het om na ’n partytjie saam met hom te stap en haar toe aangerand het.

Sy was egter verlede week traag om in die hofsaak te getuig en het gesê dat sy lief is vir die beskuldigde en nie met die hofsaak wil voortgaan nie.

Sass se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het daarna die hof vir Sass se ontslag gevra.

Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, is dit kommerwekkend dat vroue hof toe kom en dan sake terugtrek, net om weer aangerand of selfs doodgemaak te word.

Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê met geen getuienis voor die hof om die beskuldigde skuldig te bevind nie, behoort hy vrygespreek te word. (Deur Garnett Wicomb)