Huisrower wat te veel raas op heterdaad betrap!

’N ROWER wat te ’n groot geraas gemaak het toe hy by ’n huis in Polisiehoogte op Oudtshoorn probeer inbreek het, is sy buit en sy vryheid kwyt nadat hy op heterdaad betrap is.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die verdagte Sondag (4 Julie) omstreeks 03:10 deur die inwoner van die woning vasgekeer toe hy weens die geraas in sy kamer wakker geskrik het.

Michaels sê die inwoner het die verdagte by sy kamervenster gesien terwyl die verdagte ’n “voorwerp na hom gedraai het”.

“Die klaer het toe die verdagte vasgekeer en die polisie gekontak.

Die verdagte is op ’n klagte van huisbraak in hegtenis geneem,” het Michaels gesê.

Skootrekenaar-dief in Dysselsdorp vasgetrek
In ’n onverante voorval is ’n 23-jarige man verlede Woensdag (30 Junie) deur die Dysselsdorp Polisie vasgetrek nadat twee gesteelde skoot­rekenaars in sy besit gevind is.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het ’n polisieondersoek na ’n diefstal vroeër die dag by ’n huis in Johnsonstraat hulle na die huis van die verdagte geneem.

Die twee skootrekenaars is gevind toe die perseel deur die polisie deursoek is.

Die man sal in die hof verskyn vir die diefstal. (Deur Stefan Skapie Goosen)