Kannaland-begroting toe in grasietyd goedgekeur

DIE Kannaland Munisipaliteit kon Dins­dag daarin slaag om sy begroting vir 2021/2022 binne ’n grasietydperk van sewe dae goed te keur.

Die Wes-Kaapse regering het op 1 Julie aangedui dat formele optrede teen die Kannaland Munisipaliteit beoog word nadat die munisipaliteit nie voor die afsnytyd van 1 Julie sy 2021/2022-begroting goedgekeur het nie. Die nuwe boekjaar het op 1 Julie afgeskop.

Volgens Kannaland se waarnemende munisipale bestuurder, Roland Butler, het die raad wel verskeie vergaderings voor die afsnytydperk belê om die begroting betyds goed te keur, maar kon die steun van ’n meerderheid raadslede vir die begroting nie verkry word nie.

’n Geskeduleerde raadsvergadering vir Maandag is na Dinsdag uitgestel nadat twee raadslede vir twee agtereenvolgende kere afwesig was. Na verneem word het die twee partye wat die raad beheer, Icosa en die ANC, ooreenstemming bereik om geskille by te lê en om die gemeenskap eerste te plaas en is die begroting Dinsdag goedgekeur.

Butler sê die Wes-Kaapse ministers van finansies en ekonomiese geleent-hede (David Maynier) en plaaslike regering (Anton Bredell) is na 1 Julie ingelig dat gepoog word om die begroting goed te keur binne die grasietydperk van sewe dae.

Die implikasies van die versuim om ’n begroting goed te keur sou ernstige implikasies vir Kannaland en sy inwoners gehad het.

“Die versuim om die jaarlikse begroting goed te keur, stel volgehoue ​​ dienslewering in gevaar, en het ernstige regsgevolge soos dat die nasionale tesourie die oordrag van fondse na ’n munisipaliteit mag stop,” sê Maynier.

Deur nie ’n begroting betyds goed te keur nie, oortree ’n munisipaliteit die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA, Wet 56 van 2003) en word vereis dat die provinsiale regering formeel teen die munisipaliteit moet optree. Optrede kan onder meer insluit dat die raad deur die provinsie beveel word om ’n begroting vir goedkeuring te oorweeg, die raad ontbind word, ’n administrateur aangestel word of self ’n tydelike begroting goedkeur. (Deur Liesel le Roux)