Ons moet dorp se mense weer hoop gee, sê Macpherson

DIE bewaring van die groen strook om Oudts­hoorn en die Webber Wentzel-verslag was Vrydag (17 Julie 2020) op die agenda van ’n gemeenskapvergadering wat AfriForum Oudtshoorn by die Turnberry Hotel aangebied het. Slegs 50 mense is toegelaat en Covid-19-protokol is gehandhaaf.

Drie genooide sprekers – Shehaam Simms, waarnemende direkteur behuising by die Groter Oudtshoorn Munisispaliteit, Jan Vlok, plantkun­dige en omgewingskenner, en Chris Macpherson, nuwe DA-raadslid – het inligting oor onder meer die volgende kwessies gedeel:

• Die Webber Wentzel-verslag
Die verslag het gespruit uit ’n dispuut wat tussen die voormalige burgemeester van Oudtshoorn (Colan Sylvester) en die munisipale bestuurder (Allen Paulse) ontstaan het, nadat Paulse perso­neellede in Sylvester se kantoor ontslaan het, het Macpherson op ’n vraag oor die verslag gesê. “Toe ontstaan daar wat my betref as ’t ware ’n heksejag op die munisipale bestuurder. Onderhoude vir die verslag is byvoorbeeld slegs met sekere raadslede gevoer, met ander raadslede wat nooit vir kommentaar genader is nie.”

Macpherson het gesê dit is belangrik dat die proses rondom die verslag korrek deur die raad gevolg moet word. “Daar is aantygings gemaak dit moet beantwoord word deur die persoon wat aangekla is. Daar is ’n dissiplinêre proses vir se­nior bestuurders wat gevolg moet word. Ons moet doodseker maak die Webber Wentzel-verslag word reg hanteer. As daar iets gedoen is wat verkeerd is, moet daar opgetree word.”

Hy het bygevoeg dat hy glo die Oudtshoorn-raad se aandag is die laaste tyd deur talle kwessies afgetrek van dit wat eintlik belangrik is.

“Ons word geside-track van die werklike kwessies af. Hoeveel goed is vir maande nie deur die raad hanteer nie. Dit is ’n skreiende skande.

“Die mense van die dorp het in hierdie tyd verskriklik swaargekry. Dit is tyd dat ons vir die mense weer hoop gee. Ons as raad moet vir mense sê daar is hoop. Met die inwoners se samewerking moet ons planne uitwerk. Een ding van Oudts­hoorn – sy mense kan opstaan uit ’n krisis. Daar gaan niemand anders wees wat ons kan uitlig nie.”

Macpherson het gesê hy is bereid om daagliks saam met verteenwoordigers van alle politieke partye in die Groter Oudtshoorn wat omgee vir die dorp te werk sodat aandag geskenk kan word aan sake wat werklik belangrik is.

• Bedreigde gebiede binne die groen strook
Vlok het op sy beurt ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om te herbesin oor drie van die 12 gebiede op Oudtshoorn wat vir toekomstige ont­wikkeling geoormerk is. Volgens hom kom ver­skeie bedreigde plante en diere in die gebiede voor en dra dit ook op verskeie maniere by tot die aantreklikheid van Oudtshoorn as ’n dorp waar mense nog wil eiendom koop en woon. Dit is voorts gewilde gebiede waar inwoners stap, draf en fietsry en op groot skaal gebruik word.

Die eerste gebied is geleë tussen Die Palmoord en Klapperbosrant. Volgens Vlok wat by die aanvanklike omgewingstudie betrokke was toe Klapperbosrant gebou is, is daar as gevolg van die sensitiwiteit van die gebied toestemming gegee vir slegs die ontwikkeling van Klapperbosrant in dié gebied, en is die Palmoord later sonder die nodige toestemming daar gebou. Die ander gebiede is by die Honde-eenheid asook die gedeelte min of meer tussen die nuwe tronk na die ou groef toe.

• Ontwikkeling moet prakties wees
Macpherson het oor ontwikkeling gesê daar moet gewaak word teen die skep van “poverty pockets” deur mense ver buite die dorp te vestig. “Jy veroorsaak dat mense in armoede gaan leef as jy dit gaan doen, en moet mense naby genoeg aan die sentrale deel van die dorp vestig sodat hulle nie ver hoef te beweeg nie.”

Terselfdertyd moet besluite oor ontwikkeling prakties uitvoerbaar en aanvaarbaar wees. Hy het gesê daar moet gewaak word teen die aankoop van landbou-intensiewe grond, en die ontwikkeling van gebiede wat buitengewoon duur sal wees of as groen stroke dien. “Dit laat ons met ’n klein gebied waarin ons ontwikkeling kan doen, en dit is waar ons mekaar tegemoet kan kom. Ons moet om die tafel gaan sit en kyk waar ons die minste inbreuk sal maak op die natuur en wat bewaar moet word.”

• Hopeville en nog 17 grondbesettings
Die informele woonbuurt wat einde verlede jaar langs die gholfbaan verrys het, Hopeville, is nie vinnig stopgesit na die eerste strukture opgerig is nie, omdat die twee mees senior amptenare by die munisipaliteit nie bereid was om ’n uitsettingsbevel te onderteken nie.

Volgens Simms, wat oor ontwikkeling op die dorp gepraat het, het sy besef dat daar vinnig opgetree moes word om ’n uitsettingsbevel te kry toe mense Hopeville begin beset het. “Ek het alles in my vermoë gedoen, want ek weet hoe vinnig mens met besettings moet optree. Die regter wou egter nie die uitsettingsbevel toestaan nie omdat hy van mening was dat hoewel die munisipaliteit se redes goed genoeg was ‘die raad nie ernstig kan wees as hierdie twee baie senior mense die dokumente nie wil onderteken nie.’ ”
Volgens haar is die huisnood op die dorp so groot dat daar sedert die grond by Hopeville beset is, nog 17 grondbesettings op Oudtshoorn was.

“Ek het begrip waarom mense grond beset. Baie se omstandighede is uiters haglik. Hulle kan ook nie meer vir blyplek in ’n agterplaas betaal as gevolg van Covid-19 nie.”

• Die omstrede Spekkop-projek
Simms het gesê sy glo die Spekkop-projek is die antwoord vir mense op die waglys vir huise; party sedert 1967. Die projek, wat tans op ys is, sou tussen 800 en 5 500 nuwe huise kon huisves, asook ’n skool en munisipale en ander geriewe. ’n Omgewingsimpakstudie is reeds gedoen. Dit is geleë tussen die begraafplaas en Johnsons Bricks, oorkant Toekomsrus.

“Ek het gehoop om daarmee die eerste projek te doen vir mense op Oudtshoorn se waglys en die eerste 1 000 huise te gee aan diegene wat sedert tussen 1967 tot 1994 op die waglys is, die volgende 1 000 huise aan diegene sedert tussen 1994 en 1997 op die waglys, ensovoorts.”

Volgens Simms het sy die projek, wat in 2013 deur Gaven Juthe, huidige raadslid, geïnisieer is toe hy nog as munisipale amptenaar gewerk het, na haar koms na Oudtshoorn in 2016 verder begin dryf. “Hy het reeds aansoek gedoen vir befondsing en ek het na my koms elke maand oor die vorde­ring daarvan aan die raad gerapporteer.”

Die projek het egter skielik verlede jaar groot teenstand van inwoners begin kry wat gesê het hulle wil nie daar woon nie, maar in die “weste” van die dorp. Simms sê die bewering wat gemaak word dat “die munisipaliteit arm mense by die dumpsite wil dump” is nie waar nie. (Deur Liesel le Roux)