Burgemeester Vrydag verkies

’N NUWE burgemeester vir die Gro­ter Oudts­hoorn word Vrydag (24 Ju­lie 2020) tydens ’n spesiale raads­­vergadering verkies.

Die pos is vakant sedert Colan Sylvester bedank het.

Die DA se burgemeesterskandidaat vir die pos is die nuwe raadslid wat die party in Sylvester se plek aangestel het, Chris Macpherson.

Jongelizwe Tyatya, hoofsweep van die ANC in die raad, het Dinsdag gesê die ANC-koukus het nog nie ’n besluit oor ’n kandidaat geneem nie.

Wantrouemosies wankel
Mosies van wantroue in die DA-onderburgemeester, Noluthando Mwati, en DA-speaker Julia le Roux, wat Maandag by ’n virtuele spesiale raadsvergadering op Oudtshoorn in­gedien is, was onsuksesvol.

Die mosies is ingedien deur Vlancio Donson (Icosa) en gesekondeer deur Gaven Juthe (Sarco). Die mosie teen Mwati is verwyder omdat die bewoording daarvan en die artikel in die munisipale strukturewet waarna dit verwys het, klaarblyklik tegnies nie korrek was nie. Donson het ook aangedui dat hy dit terugtrek.

Van die gerugte van jarelange twee­­spalt onder DA-raadslede was daar Maandag geen teken nie met die 13 DA-raadslede wat daarna ’n mo­sie van wantroue teen Le Roux afgeweer het. Die wantrouemosie in Le Roux is met 13 stemme van die DA-raadslede teen 10 stemme van die opposisieraadslede (ANC, EFF, Sarco en Icosa) verslaan.

Webber Wentzel-verslae na dissiplinêre komitee
Die verskillende verslae van die Webber Wenzel-ondersoek wat die begin van die jaar deur die raad versoek is, is Maandag ter tafel gelê saam met die reaksie van die munisipale bestuurder, Alan Paulse, op bewerings oor hom daarin.

Die raad het besluit om die items so spoedig moontlik te verwys na die South African Local Goverment Association (SALGA), die amptelike oorsigliggaam oor plaaslike munisipaliteite in die land.

Volgens Macpherson, wat die voor­stel ingedien het, is dit belangrik dat dié saak so vinnig moontlik afgehandel word. Hy sê ingevolge die besluit moet die Groter Oudtshoorn se burgemeester SALGA nader om ’n dissiplinêre komitee aan te stel en dat daar dan, indien Paulse toestem, ’n arbitrasieproses gevolg sal word deur die CCMA (Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration). Die CCMA is ’n liggaam wat ingevolge arbeidswetgewing daargestel is om dispute op te los.
Paulse sal tydens die tydperk met tydelike verlof gestuur word.

Eis van sowat R10 miljoen na verdrinking
By die vergadering is ook aandag geskenk aan ’n eis van sowat R10 miljoen teen die raad na die verdrin­king van Cornelius Draai (5) in die Bridgton Swembad op 4 Januarie 2020. Die raad het besluit om die eis na die munisipaliteit se versekeraar te verwys. (Deur Liesel le Roux)