Santa Fé Spur te Oudtshoorn het ook deelgeneem
Foto’s bo en onder: Jaco en Annamie Swanepoel van Anny’s Bistro
VERSKEIE restaurante op Oudtshoorn het gister saam met restaurante landwyd deelgeneem aan die Million Seats on the Streets-protes met eienaars en werknemers wat buite hul persele met plakkate in die hand gestaan het om te wys hoe ernstig die inperkingsregulasies die bedryf raak.
“Die dorp en land moet sien hoe swaar die restaurantbedryf en die mense daarby betrokke tans trek,” het Pierre Malherbe, eienaar van Jemima’s, gistermiddag buite sy restaurant gesê.
“Ek het 33 werknemers wat nie hul skofte kan werk nie, en dus ook nie ’n inkomste kan kry nie. 222 mense is afhanklik van hierdie 33 werknemers se inkomste!
“Die drankwet het ook ’n ongelooflike groot impak op ons, en ons verskaffers lei ook daaronder,” het hy gesê.
Onder huidige regulasies mag restaurante nie drank verkoop nie, en moet hulle voor 21:00 hul deure sluit soos bepaal deur die aandklokreël.
Gepaard met vorige regulasies wat hulle lank verbied het om te open, en erge beperkings toe hulle wel kon open, het dit volgens die dorp se restauranteienaars ’n opeenhoping van probleme veroorsaak wat dit byna onmoontlik maak om ’n bestaan te maak.
Christof Bezuidenhout, mede-eienaar van La Dolce Vita, sê hy deel Pierre se bekommernisse. By hom word 16 families geraak.
“Die aandklokreël tref ons beslis. Ons moet teen 19:00 toemaak sodat almal betyds by die huis kan kom.
“Dan die drank ook nog. Wat nou aangaan, is maar net belaglik. Ons suffer,” het hy bygevoeg.
Volgens Gerbrandt van Deventer van Bello Cibo word 22 families by sy restaurant deur die huidige regulasies geraak
Ander restaurante op Oudtshoorn wat ook gister aan die protesaksie deelgeneem het, was Spur en Anny’s Bistro. By Anny’s Bistro word 18 werknemers en deur hulle 60 familielede geraak. (Deur Stefan Skapie Goosen)
