“Ons is nie Bruinmense of Kleurlinge nie, ons is KHOI” so sê Glen Snyman, van die Oudtshoorn Khoi Gemeenskap, en lede van die organisasie beaam die stelling.
Volgens Snyman is die woord kleurling aan slawe gegee tydens die apartheidsjare.
Snyman het onlangs sy DNA laat toets en grootste deel, 20,45% van sy DNA is van die Khoi-San gemeenskap afkomstig.
Op 22 Junie het die groep ’n byeenkoms gehad met die doel om die stryd teen rasseklassifikasie voort te sit. “Ons moet vir ons self opstaan en self vir ons eie regte veg en vir dit wat ons wil hê vir onsself en die toekoms van ons gemeenskap. Ons visie is die herstel van ons naam en kultuur in Oudtshoorn, die intellektuele en kundige ontwikkeling van ons mense, en die bou van vaardige en waardige leierskap onder ons mense,” het hy aan Die Hoorn gesê.
Almal is welkom om by hulle groep aan te sluit. “Jy is egter nie welkom as jy grond soek, geld, posisies of enige iets vir eie gewin nie.”
Die volgende vergadering vind plaas op Saterdag 6 Julie 2024 en lede van die publiek word uitgenooi om hierdie publieke vergadering van die Oudtshoorn-Khoi Gemeenskap by te woon.
Dit sal om 09:45 by die CJ Langenhoven biblioteek plaasvind. Vir meer inligting besoek hulle webtuiste by: www.oudtshoorn-khoi.co.za.
Snyman deel graag die volgende: “Op 6 Februarie 1967 tydens die Wêreld boks-kampioenskappe, het Mohammad Ali vir sy teenstander, Ernie Terrell gevra: Wat sy naam is? ”Say my name and say it right.” En dat Ernie sy naam moet reg uitspreek. Hiervoor het Ernie keer op keer pak gekry in die bokskryt. Die boksgeveg was toe agterna gedoop as die “WHAT‟S MY NAME” fight. Sy naam was nie Cassius Clay nie, want dit was die naam van ’n slaaf. Sy naam was Mohammad Ali.