Eerste mark sukses

Zara, die ponie in aksie. Foto: Caring Friends

Die eerste van ’n maandelikse instelling, Die Hoorn Gemeenskapsmark, het op Saterdag, 29 Junie 2024, by die Skougronde in Oudtshoorn plaasgevind en was voorwaar ’n reusesukses.

Die stalletjies het ’n feestelike atmosfeer geskep saam met die pragtige wintersonnetjie wat sy strale deur die wolke laat skyn het. Eden FM, wat ook ’n mediavennoot van Die Hoorn is, het kom kuier en ’n lewendige uitsending gedoen en ook met stalletjiehouers onderhoude gevoer. Hul het ook gesorg vir vrolike musiek wat die koue oggend opgehelder het.

Daar was van die heerlikste pannekoek, roosterkoek, burgers, sop, asook boeke, kraakvars groente, plante en pragtige handgemaakte produkte, om slegs ’n paar te noem.

Zara, die oulike ponie, het gesorg dat die jongklomp ook hul tyd geniet deur ’n paar draaie op haar rug te ry, met die meeste van hulle met reënboogkleure op hul gesiggies geverf by die gesigverfstalletjie.

Daar is ook ’n sit en kuierplek waar ’n drankie geniet kon word, as die draai deur die stalletjies verby was. Natuurlik eers na 10:00 die oggend.

Daar word beplan om die mark eenkeer ’n maand op die laaste Saterdag van die maand te hou. Stalletjie-houers wat nog wil aansluit by die feestelikheid, is meer as welkom om aansoek te kom doen by Die Hoorn se kantoor in die KKSP-gebou in Koöperasiestraat by Klein Karoo Agri, of kontak Geraldine by 044 272 5605 vir meer inligting. (Deur Lindi Brill)