Onrus oor toenemende wetteloosheid

Bo: Twee vermeende inbrekers probeer by ’n huis inbreek in Hoopstraat. Hulle is egter deur die inwoner opgemerk en verjaag. Foto verskaf Onder: Een van die persone wat Saffy se voer-tuig met ’n klip gegooi het. Vieslike skeltaal is ook op die video te hoor. Saffy het die video op die Facebookblad, Oudtshoorniete staan saam geplaas. Daar kan ook op die video gesien word hoe persone wat op ’n muur sit verjaag word en nog ’n persoon Saffy met ’n voorwerp probeer gooi. Foto: Videogreep Facebook

Kommer heers oor al hoe meer insidente waar rampokkers in woonbuurte in Oudtshoorn rondloop en inwoners, veral kinders, terroriseer.

Saterdag, 25 November, het Raymond Saffy in Jan van Riebeeckweg gery toe twee kinders, wat op ’n fiets gery het, vir hom skree om hulle te help.

Volgens die kinders was daar ’n groep mense wat hulle gejaag het en die fiets probeer afvat.

Die mense het in Jan van Riebeekweg, vanaf die dorp se kant opgeloop.

Die insident het op die hoek van Jan van Riebeeckweg en Albertstraat gebeur.

“Ek het gestop en vir die kinders gesê dat ek daar sal wag en kyk dat hulle veilig by die huis kom, wat net om die draai was”, vertel Saffy aan Die Hoorn.

Volgens hom het die kinders weer vreesbevange teruggekom, omdat ’n man op ’n fiets van die ander kant af op hul afgejaag het.

“Ek het my motor voor die man ingetrek om hom te stop om die kinders kans te gee om weg te kom. Toe ek uitklim en vir hom vra waarom hy die kinders jaag, het hy my begin vloek en my gestamp met sy fiets”, het Saffy verder vertel.

Die ander groep mense het teen daardie tyd by hul makker aangesluit en vir Saffy begin stamp, en een van die mans het hom met ’n halwe baksteen gegooi, wat hom rakelings gemis het. Hulle het ook sy motor met klippe gegooi en erge rassistiese aanmerkings en dreigemente gemaak.

Hy sê dat hy op daardie stadium eerder teruggeklim het in sy motor en ’n ent weggery het omdat hy gevrees het vir sy lewe.

Ander motors wat daar verbygery het, is ook deur die groep moeilikheidmakers met klippe bestook. Hulle het selfs inwoners wat op hul muur gesit het gevloek en ook klippe na hulle toe gegooi.

Saffy het verskeie kere die polisie gebel, maar geen antwoord gekry nie.

In ’n ander insident op dieselfde dag het twee booswigte oor ’n erf se heining geklim in Hoopstraat. Die inwoners was tuis en het die mans weggejaag en met pepersproei gespuit.

Die polisie is gekontak, maar volgens die inwoners het hulle versuim om op te daag.

Die Hoorn het met brig. Crafford van die Oudtshoorn Polisie gesels en haar gevra oor die beskuldigings dat die polisie nie optree op klagtes nie of dat mense nie deurkom na die polisiestasie toe nie.

Crafford het verduidelik dat daar ’n polisie- en sekuriteitsgroep is. In die geval van Saffy, het Adjudant Pieter Du Plessis, hoof van Sektor-3, gereageer en binne 5 minute ’n patrollie uitgestuur.

In die geval van Hoopstraat, is daar ’n klagte om 15:40 op die groep geplaas en is ’n voertuig van Ubuntu sekuriteit om 15:42 uitgestuur.

Die polisie het gesien dat daar reaksie deur die sekuriteitsmaatskappy was, so hulle sal dan uitgaan sodra die sekuriteit hulle laat weet dat dit nodig is.

“Die telefoonstelsel is ook uitgesorteer, aangesien daar nou ’n omskakelaar (inverter) geïnstalleer is wat sal keer dat die telefoonstelsel afgaan tydens die oorskakeling van beurtkrag”, het Crafford aan Die Hoorn gesê.

Die nommer wat geskakel kan word en altyd beskikbaar is, is 079 893 9968.
Die nommer by die radiokamer om klagtes te lê is 044 203 9008.


Inwoners moet veral soos daar in die feesseisoen ingegaan word, hul oë oophou en waaksaam wees.

Baie mense gaan ook weg vir die vakansie, en vermeende inbrekers hou beslis huise en bewe-gings dop.

Hier volg ’n paar wenke om te verseker dat jou eiendom veilig is wanneer jy nie daar is nie:

  1. Stel jou sekuriteitsmaatskappy in kennis van die datums wat jy weg gaan wees.
  2. Vra jou bure om ’n ogie te hou, en gereeld net oor die muur te loer, veral as hul dalk iets hoor of die honde begin blaf.
  3. Installeer ligte wat met beweging geaktiveer word, dit help om inbrekers af te skrik.
  4. Vra iemand om jou huis op te pas gedurende die tyd.
  5. Gee vir ’n persoon ’n stel sleutels van die huis, sodat hulle ligte kan aan- en af skakel en skakel verskillende ligte op verskillende dae aan en af.
  6. Installeer sekuriteitskamera’s. Alhoewel dit ’n duur uitgawe is, is dit beslis ’n aanwins vir jou en jou familie se veiligheid. Verskeie stelsels stuur ’n kennisgewing wanneer daar beweging opgetel word. Dit is ook handig wanneer jy dalk alleen tuis kom, om in en om die huis te kyk dat daar nie iemand wegkruip en jou inwag nie.
  7. As jy onraad vermoed, moet nie alleen in die huis ingaan nie, bel eerder jou sekuriteitsmaatskappy of die polisie om jou te vergesel. (Deur Lindi Brill)