“Ons is dankbaar vir goeie reën wat in die grootste deel van ons bedieningsarea geval het vanjaar en produsente weer in staat gestel het om na jare van droogte en uitdagings as gevolg daarvan, en ook ander bykomde uitdagings, weer kon begin produseer,” het Johannes Delport, voorsitter van Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) gesê tydens vanjaar se Algemene Jaarvergadering wat op Dinsdag 28 November 2023 plaasgevind het.
Volgens Delport, was die 2023 finansiële jaar in baie opsigte ’n beter jaar as die vorige jaar, maar dat dit steeds nie sonder sy uitdagings was nie.
“Beurtkrag veroorsaak steeds ’n beduidende bykomende uitgawe in ons besigheid.”
Ten spyte hiervan is Delport dankbaar dat daar deur Klein Karoo Saadproduksie, steeds goeie aanvullende betalings aan produsente gemaak kon word en dat daar verhoogde uitbetalings aan Klein Karoo Agri se lojaliteitskema was. “Hierdie uitbetalings is moontlik weens die uitsonderlike goeie prestasie van beide die bogenoemde maatskappye,”
Jurgens Meyer, hoofbestuurder van Klein Karoo Eiendoms Beperk het die direksie, bestuur en personeel bedank, sowel as al die filiale vir hulle volgehoue harde werk en toewyding om die besigheid ’n sukses te maak. Die gekonsolideerde groep-omset het met 33,6% na R1,8 miljard gegroei. Die netto wins na belasting toeskryfbaar aan aandeelhouers beloop R130 miljoen.
Die groep se totale bates het ook toegeneem van R1,194 miljard na R1,454 miljard in die afgelope jaar. “Na die afgelope spreekwoordelike sewe maer jare, sien ons weer uit na ’n seisoen van asem skep en voorspoed,” sluit hy af. Meyer verlaat aan die einde van die jaar die KKEB Groep en sluit in Januarie by SOURCE CAPITAL aan.
Met ’n boverwagte toename van R237 miljoen, ’n 50% groei in omset van die Klein Karoo Saad vanaf 2022 tot 2023 en ’n vergelykbare toename in aankope vanaf produsente van meer as 97% teenoor die vorige jaar, het Klein Karoo Saad en sy filiale, ’n uitstekende jaar beleef.
Klein Karoo Saad se netto wins na belasting het ook met 57% toegeneem tot R35 miljoen.
Vanjaar kon ook aanvullende betalings van R46 miljoen aan 177 produsente uitbetaal word, vergeleke met R20 miljoen in 2022. “Na sewe moeilike jare vir produsente weens droogte en veral in 2022 weens swak bestuiwing deur die bye, lyk vanjaar se prentjie weer mooi groen en die syfers getuig hiervan” het David Malan, besturende direkteur van KKS gesê.
Die ander filiale van Klein Karoo Saad soos Agrofors het ook ’n betekenisvolle bydrae gelewer tot Klein Karoo Saad se resultate. Dit sluit in die toename in kunsmisverkope van bykans 12% of R10 miljoen.
Klein Karoo Agri, het ook rede om trots te wees met ’n omsetsyfer van R1,114 miljard, dit is 24% groei, en het hul omset die afgelope sewe jaar, vanaf 2017, verdubbel.
Klein Karoo Agri het ook ’n nuwe maatskappy gestig, Klein Karoo Fuels (KKF). Daar is ses vulstasies wat by hul verskeie handelstakke geleë is. Klein Karoo Agri Empowerment Holdings (KKAEH) is ook gestig. Aandeelhouers van KKAEH bestaan uit alle twee-weeklikse besoldigde werknemers van die Klein Karoo Agri wat langer as vyf jaar aaneenlopende diens het. KKAEH besit 10% van KKF, en word deur Klein Karoo Agri bemagtig vir hul getroue diens.
|Terblanche du Plessis, die besturende direkteur van Klein Karoo Agri het sy personeel geloof vir hul harde werk wat hul met trots en passie aanpak, asook bedank vir hul bydrae die afgelope jare wat hierdie fantastiese resultate op gelewer het.
“Aan elke kliënt van Klein Karoo Agri wil ons baie dankie sê vir julle lojale ondersteuning, wat bydra tot die suksesverhaal,” sluit hy af.
Na afloop van die vergadering het Nicky Weimar, hoof-ekonoom van Nedbank as gasspreker opgetree, en meer gesels oor wat tans in Suid-Afrika se ekonomie aangaan, maar ook uitgebrei oor die drywers van die land se BBP (Bruto Binnelandse Produk). Die BBP is die totale monetêre of markwaarde van al die voltooide goedere en dienste wat binne ’n spesifieke tydperk binne ’n land se grense geproduseer word. As ’n breë maatstaf van algehele binnelandse produksie funksioneer dit as ’n omvattende telkaart van ‘n gegewe land se ekonomiese gesondheid.
“Tans is daar oral groot uitdagings in verskeie sektore van die land, veral Eskom, en die vervoer van goedere via spoorlyne na hawens, wat besighede met geen keuse laat as om die addisionele kostes oor te dra aan die verbruiker nie. Voedsel-pryse is een voorbeeld daarvan,” het sy verduidelik tydens haar voorlegging.
Sy voorsien dat kosinflasie moontlik oor die volgende tydperk sal begin afneem, maar dat dit steeds aan die hoër kant sal bly, maar in die toekoms onder beheer gebring sal word.
Die rand teenoor die Amerikaanse dollar is tans swak en die verwagting is dat hierdie tendens in die volgende seisoen sal voortduur , maar dat in ag geneem moet word dat die doller teenoor verskeie ander geldeenhede van ander lande net so sterk was die afgelope tyd. (Deur Angelique Eramsus)
Jaar na jaar groei vir KKEB en filiale
Van links is Terblanche du Plessis (besturende direkteur van Klein Karoo Agri), Johannes Delport (voorsitter: Klein Karoo Eiendoms Beperk - KKEB), David Malan (besturende direkteur Klein Karoo Saadproduksie), Jurgens Meyer (hoofbestuurder van KKEB) en Pieter Barnard (KKEB-bestuur). Foto: Angelique Erasmus