Hier word grootste drome waar gemaak!

Bo: Hier sit AJ Bekker in die swart Porsche voordat sy droom bewaarheid is om in ’n vinnige, plat motor te ry. Foto verskaf Onder: Ricklyn Andries se grootste droom was om te kan vlieg. Sy droom het werklikheid geword toe hy in die geel Bushbaby van Gideon de Villiers ’n draai oor Oudtshoorn gevlieg het. Foto verskaf

Danksy die fondsinsamelingsprojek van Eljada Kaïros Skool vir Gestremdes, wat op die been gebring is om geld in te samel vir ’n nuwe skoolbus nadat die ou een vroeër vanjaar in ’n ongeluk was, is vyf leerders van die skool se drome bewaarheid.

Met die “Dream Maker”-projek is daar deur middel van nominasies vyf deelnemers gekies. Donasies kon dan vir elke kandidaat gemaak word, waar die wenner die een met die meeste donasies sou wees.

Volgens Elsabe du Plooy, onderwyseres by die skool en dryfkrag agter die projek, was dit op die einde so moeilik om te kies, dat hulle al vyf die leerders die geleentheid gegee het om hulle drome waar te maak.

Eerste in die ry was die 16-jarige AJ Bekker. Sy droom was om in ’n plat, vinnige motor te ry. Op Woensdag, 29 November, is AJ se droom bewaarheid toe hy agter die stuur van ’n pikswart Porsche kon inskuif en homself verbeel dat hy die sportmotor teen die spoed van lig deur die strate bestuur.

Hy moes egter oorskuif na die passasiersitplek, maar sy glimlag het net breër geraak toe hy saam met die weldoener, wat anoniem wil bly, vir ’n toetsrit op die Calitzdorp-pad geneem is. Die krag van die sportmotor het hom in sy sitplek teruggedruk en die adrenalien deur sy are laat pomp.

Volgens Du Plooy het hy ná die tyd soos die bekroonde renjaer Michael Schumacher gevoel.
Op Vrydag, 1 Desember het Nkiwe Arnolds (10) en Lusekho Nombande (9) se droom ’n werklikheid geword toe dié twee se grootste wens, om in die see te swem, ’n werklikheid geword het. Nkiwe en Lusekho is na Santos Strand in Mosselbaai geneem, waar hulle vir die eerste keer in hul lewe die see aanskou en die branders op hul lyfies gevoel het.

“Hoewel hulle aan die begin bietjie oorweldig was deur die grootsheid van die see, was daar geen keer aan hulle toe die eerste brander teen hulle vasgespoel het nie,” het Du Plooy aan Die Hoorn vertel.

Dit was ’n uitdaging om Nkiwe so gemaklik as moontlik te hou in die vlak branders, aangesien sy glad nie haar bene kan gebruik om haarself te stut nie. Maar volgens Du Plooy het hulle hul gate uit geniet.

“Klein Lusekho wou net weet of die water dan nooit ophou rol nie,” het Du Plooy laggend vertel.
Klein Ricklyn Andries, agt jaar oud, se grootste droom was nog altyd om te vlieg. Die duisende papiervliegtuigies wat hy elke dag vou, is getuienis daarvan.

Op 5 Desember het hy nog gedink hy droom toe hy in die goudgeel Bushbaby van Gideon de Villiers oor Oudtshoorn gevlieg het.

“Hy wou die oggend glad nie sy pap eet nie, want hy was vreeslik bang dat daar ’n ongeluk in die lug gaan gebeur. Hy was tjoepstil nadat hulle geland het, maar toe die werklikheid eers ingeskop het, dat hy regtig-egtig gevlieg het, kon die blydskap wat oor sy lippe gestroom het nie gekeer word nie,” het Du Plooy vertel. Hy is daarna met ’n yslike sjokoladeroomys by Steers bederf om op te maak vir die ontbyt wat hy nie wou eet nie.

Die laaste droom wat bewaarheid sal word, is die droom van Ruan de Jager, die 18-jarige matriekseun wat baie graag sy eie Disney-film wil maak. Hy is ook mal daaroor om YouTube-video’s te maak. Hy gaan vroeg volgende jaar die stel besoek van ’n film wat in Oudtshoorn geskiet word. Hy gaan agter die skerms kan sien hoe hulle die film maak en dalk ook ’n bietjie handjie bysit met die produksie.

Vir enige verdere skenkings vir die “Dream Maker”-projek om ’n kind se drome te bewaarheid, kan Elsabe du Plooy geskakel word by 084 669 8338. (Deur Lindi Brill)

Bo: Op die foto van regs is klein Nkiwe Arnolds en Lusekho Nombande wat bitter graag in die see wou swem. Hier sit hulle in die branders by Santos Strand in Mosselbaai saam met Franke du Plooy. Foto verskaf

Bo is Ruan de Jager. Sy grootste droom is om films te kan maak. Ruan se droom sal vroeg in Januarie bewaarheid word wanneer hy op die stel sal wees van ’n opvolg film wat in Oudtshoorn geskiet gaan word en hy die kans sal kry om deel te wees van die proses van verfilming. Foto verskaf